Misdaadstatistiek 2016/2017: Hoogste moordsyfer in tien jaar; Mbalula versuim sy plig


Die burgerregtewaghond AfriForum is van mening dat daar tans geen beheer oor misdaad in Suid-Afrika is nie en dat landsburgers ’n verdere toename in geweldmisdaad kan verwag.
Dít volg nadat Fikile Mbalula, minister van polisie, vandag met die bekendmaking van die misdaadstatistiek vir 2016/2017 aangekondig het dat die moordsyfer vir die afgelope jaar met 1,8% toegeneem het – wat beteken dat nagenoeg 1 000 meer mense vermoor is. Dit bring die huidige moordsyfer vir 2016/2017 op 19 016 te staan.
Verder het roof met verswarende omstandighede in die afgelope vyf jaar met 33% toegeneem en motorkapings met 77,5%. Transitorooftogte het ook die hoogte ingeskiet met ’n toename van 10,9%.

“Plaasmoorde en -aanvalle is voorts ook beduidend meer as in 2016 en soos aangedui deur die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) was daar tussen 2012 en 2016 ’n toename van 112% in aanvalle en ’n 33%-toename in moorde,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Mbalula het tot dusver geen verandering teweeg gebring sedert hy in sy pos aangestel is nie en mense voel toenemend onveilig in Suid-Afrika.
AfriForum moedig gemeenskappe aan om by veiligheidstrukture in te skakel en self verantwoordelikheid binne die raamwerk van die wet te neem. Dié burgerregte-organisasie het reeds sowat 100 gevestigde veiligheidstrukture landwyd. Om hierby in te skakel, stuur ’n e-pos na veiligheid@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings