|

Misdaadsyfers erg bedrieglik sê navorser

Die polisie se misdaadsyfers wat gister in die parlement bekend gemaak is, is erg bedrieglik en dra by tot die totale gebrek aan vertroue wat die publiek in die SAPD het.

Só meen Lorraine Claasen, navorser by die burgerregte-organisasie AfriForum.

Claasen het ’n vergelyking van die misdaadsyfers gedoen wat die polisie verlede jaar vir April 2013 tot Maart 2014 vrygestel het en dit wat gister vir die ooreenstemmende tyd in die parlement vrygestel is.

In die geval van moord was daar volgens die polisie in April 2013 tot Maart 2014 aanvanklik 17 068 moorde. Volgens gister se syfer was dit 17 023 wat die vraag laat ontstaan wat met die 45 individue gebeur het wat volgens die polisie se eie statistiek vermoor is.

Syfers vir seksuele oortredings en poging tot moord het ook dramaties verskil, wat die geloofwaardigheid van die inligting in twyfel trek. Volgens die SAPD se aanvanklik syfers vir April 2013 tot Maart 2014 was daar 62 649 seksuele oortredings. Dit het om ’n onverklaarbare rede afgeneem tot 56 680. Die vraag is wat van 5 569 sake of gevalle geword het.

Wat poging tot moord betref is die verskil tussen die syfers 17 110 en 16 989. Hoe is dit moontlik dat daar vir die ooreenstemmende tyd skielik 121 minder gevalle van poging tot moord kon wees, wil Claasen weet.

In ’n navraag wat Claasen aan die SAPD gerig het oor die kwessie, was die antwoord dat daar ’n memorandum van ooreenkoms met Statistieke SA geteken is om die data-integriteit te verbeter en dat die statistieke aangepas is vir klagtes “wat nie gevind kon word nie”.

Claasen het gesê dit is tyd dat die polisie oop kaarte oor die omvang van misdaad in die land speel. Die polisie moet redes vir die aanpassings verstryk, behoorlik verduidelik hoe by die aanpassings uitgekom is én die rou data ook vrystel.

AfriForum versoek ook soos ander misdaadontleders en opposisiepartye dat die misdaad-statistieke kwartaalliks bekend gemaak word.

Lees ook Claasen se blog by: https://afriforum.co.za/misdaadstatistiek-ons-het-rede-tot-kommer/

 

Soortgelyke plasings