|

Misdaadvoos Suid-Afrikaners nóg meer kwesbaar wys nuwe misdaadsyfers

Die jongste misdaadsyfers bevestig die land se burgers het rede om toenemend onveilig en bang te voel.

Genl. Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, het die stygende geweldsmisdaadsyfers vanoggend in die parlement bekend gemaak.

Volgens die skoksyfers het die moordsyfer vir April 2014 tot Maart 2015 met 4,6% persentasiepunte gestyg. In April 2013 tot Maart 2014 is 17 023 mense vermoor teenoor die 17 805 in April 2014 tot Maart 2015.

Daar was nie net ’n styging in die moordsyfer nie, maar ook in die syfers vir poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, roof met verswarende omstandighede en algemene roof.

Dit is in die lig van dié kommerwekkende tendens dat die burgerregte-organisasie AfriForum môre amptelik sy Operasie Misdaadvry gaan bekend maak.

“AfriForum sal sy strategie bekendmaak waartydens die organisasie die komende naweek ʼn nasionale patrollie met meer as 80 buurtwagte, polisiëringsforums en privaat veiligheidstrukture regoor Suid-Afrika sal koördineer,” het Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

Volgens Cameron is gemeenskapsingryping die enigste manier om misdaad te bekamp.

Nantes Kelder, hoof van ondersoeke by AfriForum, het gesê die statistieke wys onder meer daarop dat rooftogte by huise ook drasties gestyg het, terwyl dit juis die plek is waar mense veilig behoort te voel.

Hy het gesê die syfers wys Phiyega het nie die toets geslaag nie. “Die polisie het iemand met ’n polisie-agtergrond nodig om die leiding te neem. Dit is al wat sal help om ’n einde aan die onderlinge wantroue en struwelinge in die polisie te bring.”

Volgens Kelder is dit ook broodnodig dat die gemeenskap weer vertroue in die polisie moet kry.

Oor spesialis-eenhede wat misdaad beter kan bekamp, het hy gesê kundigheid wat die polisie verlaat het, moet teruggebring word, hetsy deur heraanstellings of op kontrakbasis.

Dr. Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), het gesê die styging in misdaadsyfers is geen verrassing nie as gekyk word na die vlakke van chaos en onbevoegdheid in die polisie. “Phiyega is lankal reeds in ’n onmoontlike posisie en mens sou hoop dat daar finaal van haar ontslae geraak word.”

Volgens Cronjé is dit ook maklik om Phiyega vir alles te blameer, maar die diepgewortelde probleme wat aandag moet kry om ’n verandering teweeg te bring, is die gebrek aan bestuur in die polisie, regstellende aksie, politieke inmenging in die polisie, kaderontplooiing en korrupsie. “’n Land het ’n groot probleem as die kommissaris van polisie ’n politieke aanstelling is.”

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dit is uiters teleurstellend dat die regering na herhaalde pleidooie en versoeke steeds versuim om plaasmoorde afsonderlik te lys. Dít terwyl boere die grootste risiko in die land het om vermoor te word. Meer as 40 boere is sedert die begin van die jaar in meer as 160 plaasaanvalle vermoor.

 

Soortgelyke plasings