|

MODISE SE REGSVERTEENWOORDIGER BRING AANSOEK OM ONTSLAG

Deur Marthinus Koekemoer

Adv. Dali Mpofu, regsverteenwoordiger vir Thandi Modise, speaker van die parlement, het ‘n aansoek om ontslag in die dieremishandelingsaak teen haar gebring.

Die saak het in die Potchefstroomse Streekshof hervat ná getuienis van ‘n veearts en ‘n voormalige werknemer op haar plaas gister aangehoor is. In ‘n verrassende wending het Mpofu gevra die hof moet Modise onskuldig bevind op grond van onvoldoende getuienis om haar met die saak te verbind.

Ingevolge Artikel 174 van die Strafproseswet kan die verdediging nadat die vervolging hul saak afgesluit het, so ’n aansoek bring.

Die getuienis van Tebogo Mokaedi, die laaste plaaswerker wat op Modise se plaas in Noordwes gewerk het waar honderde diere in 2014 gevrek het, is vandag deur ‘n medegetuie as leuens afgemaak.

Mokaedi het gister getuig dat hy vir omtrent twee maande op Modise se plaas gewerk het en dat hy in die tyd net R200 betaal is. Hy het voorts gesê hoewel voer vir die diere afgelewer is nadat hy oor ’n tekort gekla het, dit ook opgeraak het. Hy het die plaas toe op kort kennisgewing verlaat. “Die varke was besig om dood te gaan en van hulle het dié wat reeds dood was begin vreet. Ek het self ook nie meer kos gehad om te eet nie en ek het geen keuse gehad as om die plaas te verlaat nie,” het hy getuig.

Mokaedi het vertel hoe Khoroba Nimrod Tlhoaele hom genader het om op Modise se plaas te werk. Dit was ook by hom wat hy later die tekort aan voer aangemeld het. Mokaedi het self besluit om die skape, bokke en beeste elders te laat wei. Hy het dooie varke in ’n gat gegooi wat ’n vorige werker vir hom uitgewys het. Volgens hom was die voer wat afgelewer is vir net ’n week genoeg.

Tlhoaele het egter in sy getuienis aangevoer dat Mokaedi se getuienis verskeie leuens bevat. “Hy was onverantwoordelik met die voer. Hy het die varke te veel kos gegee wat daartoe gelei het dat die kos vinnig opgeraak het.”

Volgens hom het Mokaedi gejok oor wie sy salaris betaal het en hoe lank hy op die plaas was. Tlhoaele het wel erken dat hy gevra is om nog voer te bekom. Ná voer afgelewer is, meen Tlhoaele, daar was genoeg kos vir die diere vir twee maande. Dis onduidelik hoe hy (Tlhoaele) sy berekening gemaak het aangesien hy op vrae oor hoeveel diere op die plaas was en hoeveel ’n vark per dag eet nie akkurate antwoorde kon gee nie.

Mpofu het Tlhoaele gevra of hy dink Mokaedi voer verkoop het om geld te kry om drank te koop. Hy het gesê hy het Mokaedi aangespreek oor sy drinkgewoontes, maar dat daar nie enige aanduidings was dat hy van die voer verkoop het nie.

’n Woordewisseling het uitgebreek toe daar tydens die hofverrigtinge  oor die getuies se verklarings aan die polisie geargumenteer is.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, het aangevoer die verklarings is nie ingedien nie, waarop Mpofu gesê het die getuies het bevestig dat hulle wel die verklarings afgelê het.

Terwyl Nel aan die woord was het Mpofu hom uitgelag. Toe Nel hom versoek het om op te hou lag terwyl hy aan die woord is, het Mpofu gesê Nel sal sy woorde berou. Nel het hierop gesê Mpofu moet hom nie dreig nie.

Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, sê hulle gaan die Artikel 174-aansoek teenstaan. “Ons is vol vertroue dat geen redelike hof dit sal toestaan nie.”

Landdros Ben Mtebele sal môre uitspraak oor dié aansoek lewer.

AfriForum vervolg Modise privaat namens die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NRDBV) op ses aanklagte van dieremishandeling en –verwaarlosing.

Die saak het so lank gesloer omdat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) Modise ook nie wou vervolg nie.

Soortgelyke plasings