|

MODISE-UITSPRAAK: AFRIFORUM GAAN APPELLEER NÁ ONTSLAG

Deur Marthinus Koekemoer

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, gaan appelleer teen die uitspraak van landdros Ben Mtebele, wat vandag in die Potchefstroomse Streekhof, die aanklagte van dieremishandeling teen Thandi Modise, speaker in die parlement, laat vaar het.

Dit volg nadat adv. Dali Mpofu, haar regsverteenwoordiger, gister ’n Artikel 174-aansoek vir haar ontslag gebring het. Hy het aangevoer dat die saak teen haar polities gedrewe is en dat sy nie vir die dood van talle diere op haar plaas verantwoordelik gehou kan word nie. Volgens hom is Tebogo Mokaedi, die plaaswerker wat laaste op haar plaas gewerk het, aanspreeklik. Mtebele het hom gelyk gegee.

Nel, wat die privaatvervolging namens die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NRDBV) behartig, het in sy betoog uitgewys waarom Modise nie kwytgeskeld kan word nie. Hy het daarop gewys dat Modise in gebreke gebly het om iemand aan te stel om na die diere om te sien en dus self verantwoordelik is. “Die beskuldigde was verplig om ’n verweer te openbaar en leemtes in die getuienis aan te vul. Sy was die enigste persoon wat vir die hof kon sê wie op die plaas was en hoe die tragedie voorkom kon word. Selfs as ons sou aanneem dat sy wel Mokaedi aangestel het om na die diere om te sien, was hy duidelik nie gekwalifiseer om die werk te doen nie. Voorts was daar nie genoegsame voer vir die varke nie en al sou hy daar aangebly het, sou dit geen verskil gemaak het nie.”

Mpofu het in antwoord op Nel se argument gesê Nel moet volgens die Dierebeskermingswet bewys dat Modise op die misdaadtoneel was.

Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, meen daar is meer as genoegsame gronde om te appelleer. “Mense in gesagsposisies moet ’n goeie voorbeeld stel eerder as om met misdrywe weg te kom.”

Marcelle Meredith, uitvoerende direkteur van die NRDBV, het die uitspraak as betreurenswaardig bestempel.

Talle diere, waaronder skape, boerbokke, varke en hoenders het in 2014 op Modise se plaas buite Potchefstroom ween mishandeling en verwaarlosing gevrek. Baie moes weens wanvoeding van kant gemaak word.

Die NRDBV het aangedui dat dit een van die ergste voorvalle van dieremishandeling en -verwaarlosing is waarmee die organisasie nog te kampe gehad het.

Dr. Sameer Abbas, ’n veearts, het vroeër getuig oor skokkende tonele op die plaas en die duidelike lyding waaraan die diere onderwerp was.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van die familieboerorganisasie, Saai, het gesê die afloop van die saak teen Modise skep groot verwarring in die landbousektor oor waar die aanspreeklikheid en verantwoordelikheid van veeboere ten opsigte van dierewelsyn lê. “Daar heers ook kommer dat dit Suid-Afrika in die internasionale mark, wat uiters sensitief oor dierewelsyn en die integriteit van die regulatoriese waarborge vir aanvaarbare standaarde is, reputasieskade kan laat ly wat die bedryf onberekenbare skade kan berokken.”

Soortgelyke plasings