|

MODISE-VERHOOR OOR WREDE DIEREMISHANDELING BEGIN

Deur Marthinus Koekemoer en Alet Rademeyer

Die verhoor van Thandi Modise, speaker van die parlement, se dieremishandelingsaak het vandag in die Potchefstroomse Streekshof begin.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, vervolg Modise namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV). Die NDBV het ingevolge die Wet op Verenigings vir die Voorkoming van Dieremishandeling, 1993 (wetno. 169 van 1993) die statutêre magte om oortreders privaat te vervolg.

Modise verskyn op ses aanklagte wat verband hou met diereverwaarlosing en dieremishandeling nadat meer as 200 diere in 2014 op haar plaas, Modderfontein, in Noordwes, gevrek het. Sy het onskuldig op al die klagtes gepleit.

Modise het stil in die verdedigingsbank gesit terwyl Nel die eerste getuie, ao.  Andrew Serame van die SAPD, ondervra het. Serame het destyds foto’s van die grusame tonele op die plaas geneem waar verskeie diere reeds dood is of so naby aan dood was dat die NDBV besluit het om hul van kant te maak.

Serame het meer as 100 foto’s in ’n album ingesluit. Alhoewel hy nie veel van die omstandighede kon sê nie het sy getuienis wel die toneel van die haglike toestande waarin die onderskeie diere gevind is, geskets.

Grace de Lange, senior inspekteur by die NDBV se plaasdiereenheid, het tweede getuig.

“Daar was ’n stank van verrotte diere oor die hele plaas. Die  toneel was afgryslik.”

Sy het voorts getuig die toestande op die plaas was van die ergste wat sy in haar loopbaan van 15 jaar as inspekteur gesien het.

Die NDBV is op 5 Julie 2014 na Modderfontein ontbied ná die plaaslike tak van die DBV die situasie as “te groot” vir hul eie vermoëns beskryf het. De Lange het beskryf hoe diere se karkasse in verskeie stadiums van ontbinding gevind is. Sommige wat nog gelewe het, was so verswak dat hulle nie meer self kon opstaan nie. Varke het dooie en lewende diere begin eet.

De Lange is aan ’n persoon, wat hom as ’n verteenwoordiger van Modise geïdentifiseer het, voorgestel. Hy het van die diere wat nog gelewe het in die DBV se sorg oorgeteken.

“Die diere het nie kos of water gehad nie. Daar was ook diere sonder enige skuiling. Ons kon nie enige kos vir die diere op die plaas kry nie en die watertenk was leeg. Lede van die publiek wat van die situasie te hore gekom het, het kos en water na die plaas gebring,” het De Lange getuig.

Adv. Dali Mpofu, Modise se regsverteenwoordiger, het De Lange verder oor die situasie waarin die diere destyds aangetref is, uitgevra. Hy wou onder meer weet of die diere dalk beter af sou gewees het as hulle vrye toegang tot die res van die plaas gehad het waar hulle dalk aan gras kon gewei het. In De Lange se opinie was daar in die middel van die winter nie genoeg voedsame weiding om die diere sonder hulp ’n kans op oorlewing te gee nie.

Andrew Leask,  hoofondersoeker by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, het ná afloop van die hofverrigtinge gesê die getuienis is grootliks aanvaar.

“Hulle het die haglike omstandighede en die omvang van die situasie goed uiteengesit.”

Verrigtinge is vroeër tydelik ontwrig toe ’n verteenwoordiger van die South African National Civic Organisation (Sanco) geskree het dat hy Nel se neus wil breek en dat om Modise vir die dood van ’n paar varke te vervolg ’n mors van tyd is.

Die eerste veearts wat op die toneel was en ’n dierevoerdeskundige sal môre getuig.

Só het die saak tot dusver verloop:

Tydlyn:

Julie 2014: Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) ontvang ’n klagte van een van die wreedste gevalle van dieremishandeling wat dié welsynsorganisasie nog teëgekom het.

19 Julie 2018: AfriForum en die NDBV kondig aan dat adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, Thandi Modise, speaker van die parlement, namens die NDBV privaat gaan vervolg.

5 April 2019: AfriForum se Privaatvervolgingseenheid dagvaar Bejani Chauke, pres. Cyril Ramaphosa se raadgewer, en kapt. Tebogo Mokolobate kragtens artikel 205 van die Strafproseswet om in die Potchefstroomse Streekhof te verskyn. Chauke daag weens mediese redes nie op 5 April by die hof op nie en ’n lasbrief vir sy arrestasie staan oor tot 29 April 2019.

29 April 2019:  Chauke verskyn en lê ’n ongeskrewe verklaring af. Die uitgereikte lasbrief teen hom word gekanselleer en daar word ooreengekom om sy verklaring voor 6 Mei 2019 aan te vul. Mokolobate verskaf geen verklaring nie en beroep hom op regsverteenwoordiging.

6 Mei 2019: ’n Belangrike bladsy ontbreek in Mokolobate se verklaring oor die gebeure op Modise se plaas. Dit was die derde keer dat Mokolobate in die Potchefstroomse Streekhof verskyn het.

17 Mei 2019: AfriForum se Privaatvervolgingseenheid dagvaar Modise om op 21 Junie 2019 in die hof te verskyn op aanklagte van dieremishandeling.

21 Junie 2019: Modise moes vir die eerste keer in die hof verskyn, maar haar regspan voer aan dat sy weens haar verantwoordelikhede as parlementêre speaker en voorsittende beampte by Ramaphosa se staatsrede in Kaapstad nie in die hof sal kan verskyn nie. Die verhoor word uitgestel.

22 Julie 2019: Modise verskyn die eerste keer in die hof. Die saak word uitgestel tot 30 Oktober 2019 sodat Modise kan pleit.

30 Oktober 2019: Modise verskyn en die saak word voorlopig tot 24 – 27 Maart 2020 uitgestel.

24 Maart 2020: Modise versuim om in die hof te verskyn. ’n Lasbrief vir haar inhegtenisname word uitgereik hangende haar verskyning in die hof op 31 Maart 2020. Modise se regsverteenwoordiger het aangevoer dat sy deur Ramaphosa aangesê is om die COVID-19-pandemie te help bestuur.

30 Maart 2020: ’n Dringende aansoek om uitstel vir haar verskyning word deur Modise se regspan in die Noord-Gautengse Hoë Hof van die rol verwyder. Landdros Ben Mtebele het toegestem dat Modise op 8 Mei 2020 in die Potchefstroomse Streekhof verskyn om te antwoord op haar wanverskyning en om ’n verhoordatum vas te stel.

8 Mei 2020: Modise moes op dié datum verskyn, maar weens COVID word die saak uitgestel tot 1 Julie 2020.

1 Julie 2020: Die privaat vervolging van Modise word vir die soveelste keer uitgestel tot 1 – 3 Desember.

1 Desember 2020: Modise pleit onskuldig op alle aanklagte teen haar en voer aan sy was nie bewus van die probleme op die plaas nie omdat ’n plaasbestuurder in beheer was. Grace de Lange van die NDBV getuig dat dit een van die ergste gevalle van dieremishandeling was wat sy nog gesien het en dat die omstandighede waaronder die diere aangehou is verskriklik was.

Die saak duur vandag voort.

Soortgelyke plasings