|

Moenie Afrikaners se ekonomiese bydrae in verlede misken nie

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die Afrikaner het in die verlede en sal aanhou om in die toekoms ’n uiters belangrike finansiële en ekonomiese rol in Suid-Afrika te speel. Hul toekoms lê egter lankal nie meer by staatsinstellings nie, maar eerder in die privaatsektor en veral familie-ondernemings.

Dít is die mening van Tom Moodie, voormalige ekonoom van die Saambou Nasionale Bouvereniging, wat onlangs ’n boek geskryf het oor die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI), ’n sakeorganisasie wat in die 1930’s ontstaan het met die idee om Afrikaners te bemagtig deur hul ekonomiese kragte saam te span.

Dié boek, getiteld AHI – Die Kaalkop Waarheid, is vandag by die Voortrekkermonument bekendgestel en vertel hoe die AHI, wat op sy hoogtepunt sowat 9 000 Afrikaanse sakeondernemings verteenwoordig het, ’n groot rol gespeel het in die ekonomiese emansipasie van die Afrikaner in die sakewêreld.

“Die Afrikaner het in die verlede, spesifiek in tye wat hy nie politieke mag gehad het nie, en boonop teen die agtergrond van oorlog en armoede, opgestaan en homself georganiseer om sy gemeenskap te bemagtig.”

Moodie het ’n verbintenis met die AHI wat langer as 40 jaar strek en in die boek deel hy die sakeorganisasie se hoogte- en laagtepunte, waarhede oor wat agter die skerms gebeur het en ook hoe die “spelreëls” ná 1994 verander het en geleidelike verengelsing by die AHI, nou tegnies die Small Business Institute (SBI), ingetree het totdat die onvermydelike in 2017 gebeur het dat sy deure “gesluit” moes word. Ander raakpunte soos die organisasie se verskyning voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie, asook die AHI se eerste swart president, word ook bespreek.

Tom Moodie tydens die bekendstelling van sy nuwe boek, AHI – Die Kaalkop Waarheid

Moodie het tydens die boekbekendstelling, wat deur dr. Theuns Eloff, politieke ontleder en voormalige president van die AHI, gefasiliteer is, ook daarop gewys dat die AHI met sy ontstaan nie staatsbevoordeling of “Afrikaner- ekonomiese bemagtiging” gehad het nie. “Daar is beskuldigings gemaak dat die Nasionale Party al die Engelssprekendes dadelik met Afrikaners vervang het toe hulle aan bewind gekom het. Dit is egter nie die geval nie. Dít wat die Afrikaner bereik het, het hy aan die einde van die dag hard voor gewerk en verdien.”

Dít is ook een van die redes waarom Eloff meen dié boek wye dekking moet kry. “Die Afrikaner het in die verlede, spesifiek in tye wat hy nie politieke mag gehad het nie en boonop teen die agtergrond van oorlog en armoede, opgestaan en homself georganiseer om sy gemeenskap te bemagtig.”

Dr. Theuns Eloff,

politieke ontleder en voormalige president van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI)

Hy sê voorts die Afrikaner se verlede en huidige pogings om staatsbestand te wees is ook die rede waarom organisasies soos die Thabo Mbeki-stigting graag met Afrikanerbelangegroepe soos die Solidariteit Beweging wil sit en gesprekke voer. “Ander gemeenskappe, selfs uit ANC-geledere, wil hul mense ook leer hoe om soos Afrikaners minder afhanklik van die staat te wees.”

In die boek, wat deur Malan Media uitgegee is, skryf Moodie ook oor die sakemodel en die  invloedsfeer wat die AHI uitgeoefen het deur nie net werknemers in diens van sy lede te bemagtig nie, maar ook ’n onuitwisbare bydrae te lewer om infrastruktuur in die vorm van behuising te voorsien, winkels te open, fabrieke te begin, hotelle te bestuur, myne te ontgin en ander aktiwiteite daar te stel wat vir die duur van sy bestaan vir welvaart en voorspoed in die land gesorg het.

Hy noem ook dat daar nie van die talle “naamlose” Afrikaners en Afrikaanssprekendes vergeet moet word wat danksy hul kundigheid ook ’n groot bydrae gelewer het om nie net Afrikaanse, maar ook sogenaamde “Engelse” besighede te ontwikkel en uit te bou nie.

Wat die toekoms van Afrikaners in die sakewêreld betref skryf Moodie dat familie-ondernemings onder Afrikaanssprekendes gaan groei. Hy skryf dat ’n nuwe “entrepreneursgeslag” onder Afrikaanssprekendes in die land besig is om te gedy en deel vorm van ’n nuwe Afrikaner-oorlewingstrategie wat weens beleide soos regstellende aksie Afrikaanssprekendes dwing om wéér hulle eie geleenthede te skep.

Hy benadruk ook die belangrikheid van opleiding, veral tegniese opleiding en die besigheidsgeleenthede wat daaruit voortspruit, wat volgens hom die kern gaan vorm vir sakegeleenthede vir toekomstige Afrikaanse sake-eienaars. “Die dae van ’n miljoenêr word sonder die nodige opleiding is verby. Opleiding is van kritieke belang en as jy veral tegniese opleiding en vaardighede het, sal jy ’n suksesvolle sakeman kan word.”

Moodie sê voorts dat inisiatiewe soos dié van die sakeorganisasie Sakeliga, wat tans by die 13 000 lede het, en die AfriForum Sakenetwerk, ’n aanlyndatabasis van meer as 15 000 ondernemings wat in Afrikaans dienste en produkte lewer en ook netwerk- en opleidingsgeleenthede vir ondernemings bied, daarom prysenswaardig en broodnodig vir die toekoms is.

Soortgelyke plasings