|

Moenie die Afrikaanse Aitsa’s vanaand misloop nie!

Daar is groot opwinding in die lug by AfriForum Teater waar Pretoria FM se Aitsa Musiektoekennings vanaand aangebied word.

Verskeie kunstenaars, liriekskrywers en vervaardigers sal vir hul bydrae tot Afrikaanse musiek vereer word. ’n Spesiale toekenning sal ook aan ’n kunstenaar vir sy/haar lewenslange bydrae gemaak word.

Weens die beperking op byeenkomste wat daar steeds weens COVID-19 is, sal ’n beperkte aantal gaste die geleentheid by die teater kan bywoon. Enige lid van die publiek sal egter die spoggeleentheid regstreeks by www.myaitsas.co.za op AfriForum TV kan volg. Pretoria FM sal ook vanjaar se Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings regstreeks uitsaai om 19:00.

Elandré ontvang die Aitsa vir musiekvideo van die jaar in 2019. Foto: Reint Dykema

Willie Spies, voorsitter van Pretoria FM, sê vanjaar was ’n jaar met groot uitdagings, ook wat die Aitsa’s betref. “Ons moes nuut dink. Waar ons dit twee jaar gelede voor 5 000 mense in die Moreleta-ouditorium kon doen, is ons droom vanjaar om dit regstreeks aan 100 000 mense regoor die land voor hul TV-stelle op AfriForum TV te bring. Ons is opgewonde oor die 13 kategorieë en die produkte wat gelewer is in ’n jaar wat moeilik vir kunstenaars en die hele samelewing was.

“Ons sien ook uit om te begin gereedmaak vir volgende jaar se Aitsa’s. Ons het een boodskap en dit is dat die Aitsa Toekennings hier is om te bly en dat dit groter en sterker en die vlagskip vir Afrikaanse musiekgeleenthede sal word.”

Groot name in die bedryf is onder die finaliste wat in die verskillende kategorieë deelneem.

Die 13 kategorieë is:

  1. Boeremusiekliedjie van die Jaar
  2. Geestelike Liedjie van die Jaar
  3. Instrumentale Liedjie van die Jaar
  4. Liedjieskrywer van die Jaar
  5. Nuweling van die Jaar
  6. Musiekvideo van die Jaar
  7. Alternatiewe/Rockliedjie van die Jaar
  8. Vervaardiger van die Jaar
  9. Popliedjie van die Jaar
  10. Kontemporêre Liedjie van die Jaar
  11. Afrikaanse Liedjie van die Jaar
  12. Kunstenaar van die Jaar
  13. Lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek

Die finaliste in die kategorie Afrikaanse Liedjie van die Jaar is:

  • Riaan Benade met “Spontaan”
  • Ricus Nel/Snotkop) met “Boerepompie”
  • Bernice West met “Sonop-Blom”
  • Riana Nel met “Hou die hemel oop”
  • Elandré met “Binne en buite”
  • Christia Visser met “17 Shots”

Verskeie borge het die aand en toekennings moontlik gemaak. Hulle is: AfriForum, Solidariteit, Dapper Media, Afrison, Immunadue, Finbond Groep Beperk, CMAC Healthcare Consulting & Financial Services, Solarman, Ginger Love Wellness Gauteng, Die Skole Ondersteuningsentrum, Dinamika Finansiële Dienste, Hurter Spies Ingelyf, Mit Mak Motors en die Beweging vir Volkseie Onderwys.

Ikone wat diep spore in die Afrikaanse musiekbedryf en Afrikaanse kuns en kultuur getrap het, sal vanaand erkenning vir hulle bydraes kry. Voordat COVID-19 uitgebreek het, is ’n wêreldklasvertoning in 2019 by die Moreleta-ouditorium aangebied. Vanaand beloof ook om ’n vertoning van uitstaande gehalte te wees met kunstenaars soos Corlea Botha, Pieter Smith, Ricus Nel, Bernice West en SAARKIE wat gaan optree.  

Soortgelyke plasings