|

Moenie die waarde van ’n plakker in jou kind se boek onderskat nie

Deur Carien Bloem, bestuurder vir Onderwys

“Hulle kan nie wag om hulle boeke terug te kry nadat ek dit nagesien het nie, net om te sien watter plakker hulle dié keer gekry het,” vertel Suné Bolt, ’n gr. 3-onderwyser van Centurion.

By Laerskool Wierdapark gebruik hulle ’n sagte aanslag om hulle grondslagfaseleerders te leer. Daar word nie met ’n rooi pen nagesien nie en die gebruik van plakkers in die leerders se boeke ná die voltooiing van ’n opdrag is ’n positiewe manier om die jongspan aan te spoor om beter te presteer.

Suné is nie net ’n kreatiewe juffrou nie, maar ook ’n entrepreneur. Nadat sy agtergekom het watter positiewe uitwerking dié plakkers as beloning op haar leerders het, het sy besluit om ’n hele reeks plakkers te maak sodat ander onderwysers dit ook kan gebruik. “’n Mens kry nie ’n groot verskeidenheid plakkers vir onderwysers in die winkels nie en as jy wél op oulike plakkers afkom, is dit peperduur. Daar is ook baie min Afrikaanse plakkers te koop.”

Suné het ’n klomp plakkers aan die hand van verskillende temas gemaak: Onder-die-see, lekkergoed, safari, dinosourusse, hondjies, goggas en nog vele meer. Met hierdie eenvoudige plakkers maak sy ’n positiewe verskil in elkeen van haar jong leerders se lewe. Nie net moedig sy hulle aan om harder te werk nie, maar elkeen voel dat hulle elke keer deur ’n mooi plakker erkenning kry vir hulle werk.

Ronel Wiese, ’n onderwyser van Bronberg Akademie beaam ook in haar meestersgraadverhandeling Ondersteuningstrategieë vir gedragsbevordering by grondslagleerders met aandagtekort/hiperaktiwiteite dat plakkers in grondslagfaseleerders se boeke ’n baie belangrike ondersteuningstrategie is vir hierdie jong leerders.

Soms is dit klein, eenvoudige dinge in die lewe wat ’n groot verskil in klein mensies se lewe én opvoeding kan maak en hulle boonop aanmoedig om hul skoolwerk met ywer aan te pak.

Besoek gerus My sister & I se Facebook-blad om na Suné se “Juffrou-plakkers” te kyk.

Soortgelyke plasings