Moenie Eskom se wanprestasie befonds nie – AfriForum


Die burgerregte-organisasie AfriForum vra die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) om nie Eskom se beweerde korrupsie en wanadministrasie by die verhoging van die komende jaar se elektrisiteitstarief in te sluit nie.
Die organisasie het aan die openbaredeelnameproses deelgeneem rakende die elektrisiteitsverhoging wat Eskom vir die 2019/2020 finansiële jaar aangevra het.
Eskom het aanvanklik ’n aansoek vir ’n verhoging van 15% in die 2019/2020-boekjaar ingedien, maar het tydens die proses die aansoek gewysig om vir meer as 17% te vra. AfriForum voer aan dat Nersa geregtig is om korrupsie en wanadministrasie uit te sluit.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê daar sal radikale ingryping deur Nersa moet plaasvind indien Eskom se bestuur nie dringend verbeter nie. “Om Eskom se tariefverhogingsversoek af te keur is een remedie wat Nersa het om verantwoordbaarheid van Eskom te eis. Hulle sal na ander opsies ook moet begin kyk omdat Eskom se probleme al hoe ernstiger word, terwyl hulle ál meer by die publiek wil vat om te vergoed daarvoor.”
Na afloop van AfriForum se voorlegging het Nersa dié burgerregte-organisasie gevra om ’n verslag op te stel oor wat die impak van munisipale wanbetalings op tariefverhogings is. “Munisipale wanbetalings het ’n groot gedeelte van die gesprekke oorheers. Munisipale agterstallige skuld het volgens die 2018-jaarverslag met R4,3 miljard na R13,6 miljard gestyg. Die middeljaarverslag toon dat hierdie skuld reeds met nóg R3,4 miljard na R17 miljard gestyg het. Hierdie stygings toon dat die nuwe bestuur van Eskom se omkeerstrategie nie ’n impak op munisipale vlak het nie,” sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake.

AfriForum sal verdere kommentaar opstel en aan die Nersa-komitee stuur.

Soortgelyke plasings