Mooi verkiesingspraatjies sal nie emigrasie keer of omkeer nie


In reaksie op president Cyril Ramaphosa se pleidooi dat jong Suid-Afrikaners nie moet emigreer nie, het AfriForum gereageer deur die president te herinner dat mooi verkiesingspraatjies nie genoeg is om mense te oortuig dat hulle ’n volhoubare toekoms in die land het en dus hier moet bly nie.

Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, hou dié organisasie al sedert sy ontstaan kontak met Suid-Afrikaners in die buiteland. Dit geskied onder meer deur die Wêreldwyd-veldtog, bestuur deur Sue-Ann de Wet. Peilings wat gereeld onder diegene onderneem word, dui aan dat hulle uit mense van alle ouderdomme, ervaringsvelde, ras- en taalgroepe bestaan en dat hulle liefde vir hulle land en mense baie sterk bly.

“Almal getuig dat suksesvolle emigrasie groot ekonomiese én emosionele opoffering verg.  Die meerderheid wat op ons peilings reageer, droom daarvan om na die land terug te keer, maar aan die hand van die gebeure wat hier afspeel, meen hulle dat dit nie ’n sinvolle opsie is nie.”

Misdaad en onsekerheid oor eiendomsregte is van die kwessies wat tans die swaarste weeg wanneer mense besluit om te emigreer of nie na Suid-Afrika terug te keer nie. ’n Gebrek aan volhoubare loopbaangeleenthede is nóg ’n groot oorweging en word vererger deur ’n gebrek aan gelyke kanse weens raskwotas, kaderbevoordeling, die aktiwiteite van tenderpreneurs en die vernietiging van besigheidsgeleenthede, wat ondermeer aan beurtkrag toegeskryf word. Rekordhoë vlakke van werkloosheid en jeugwerkloosheid dra verder by tot hulle vertrouensgebrek.

“Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het pas aangekondig dat dit die ekonomiese groeivooruitsigte vir Suid-Afrika in 2019 van 1.4% na 1.2%, en vir 2020 van 1.7% na 1.5% afskaal. Tesame met die kommer wat kredietgraderingsagentskappe en ander finansiële instellings oor die ekonomie en die gebrek aan kragdadige optrede teen korrupsie uitspreek, gaan dit meer as woorde verg om migrasiebesluite te beïnvloed.”

Bailey voeg by dat tensy beleidsekerheid oor eiendomsregte, gelyke kanse in die arbeidsmark, ’n herstel van infrastruktuur (veral wat elektrisiteits- en watervoorsiening aanbetref), asook daadwerklike optrede teen misdadigers gesien word, is die kans groot dat emigrasie selfs verder kan toeneem.

“Die stadium waarin mooi beloftes genoeg was, is lankal verby. Mense sal vir konkrete bewyse wag voor hulle vertroue in Suid-Afrika enigsins herstel sal word. As die president ernstig is om emigrasie te keer of om te keer, is dít waar hy moet begin.”

Soortgelyke plasings