Mosselbaai-tak se jeug plant bome in Hartenbos


Die flukse jeug van AfriForum se Mosselbaai-tak het op 13 Oktober 2018 tien inheemse bome by die Laerskool Hartenbos geplant as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantprojek. Louis Cook, voorsitter van die AfriForum-tak in Mosselbaai, het ’n wakende oog oor die jongspan gehou.

As simbool van die Laerskool Hartenbos se ingesteldheid op waardesisteme is ’n spesifieke waarde aan elke boom toegeken. Die skool – wat as die “Dolfyne” bekend staan – het Billy Croucamp, voorsitter van die jeugportefeulje van AfriForum se Mosselbaai-tak, en sy span via sosiale media vir hul inisiatief bedank.
Croucamp het weer op sy beurt die borge – Mass Hire, Divvies Slaghuis en Morné van Schalkwyk – asook sy eie span en vrywilligers vir hul toewyding bedank. Spesiale melding is aan Cor Venter, eienaar van Key Reality, gemaak wat sy dogter saamgebring het om ’n boom te help plant. Croucamp het dié aksie as ’n toekomsbelegging beskryf en opgewonde verklaar dat die jeug verbonde aan AfriForum se Mosselbaai-tak in die toekoms ’n groot verskil in dié gemeenskap gaan maak.

“Dit is ’n voorreg om te aanskou hoe die jeug van AfriForum se Mosselbaai-tak in hul toekoms belê. Dit sal beslis die gemeenskap ook inspireer om hande te vat as verantwoordelikheid teenoor die volhoubaarheid van ons omgewing,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Die tak moedig die gemeenskap aan om deel te word van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings