| |

MPUMALANGA SE VULLISTERREINE IN BEROERDE TOESTAND

AfriForum het vanjaar 153 vullisterreine landwyd geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs een uit 21 vullisterreine wat in Mpumalanga geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, is die meeste vullisterreine in Mpumalanga in ’n haglike toestand. “Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die tekort aan oorsigfunksies vanaf die staat om munisipale amptenare verantwoordelik te hou vir die verval van hierdie terreine.”

Bekker sê die algemeenste probleme wat AfriForum tydens die oudit aangetref het, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine. Daar is ook geen onderhoudsplan vir masjinerie nie en werknemers wat gekontak is, het getuig dat masjiene vir maande stukkend staan. Verder is daar ook in sommige gevalle geen deeglike sekuriteit wat die terrein beveilig nie en herwinners se toegang na die terrein word vergemaklik.

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

AfriForum het in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, Minister van Omgewingsake, en haar span vergader. Ses terreine is geïdentifiseer wat die departement in samewerking met AfriForum gaan aanpak om dit weer op standaard te bring. AfriForum gaan ook daarop fokus om saam met munisipaliteite die probleme by sommige van die terreine in die provinsie aan te spreek en om druk toe te pas om sekere terreine weer reg te ruk. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat die vullisterreine se standaard genoegsaam verbeter.

  • Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings