Munisipale bestuurder en sekuriteitshoof gearresteer weens tenderbedrog


Die Valke het vandeesweek sowel die munisipale bestuurder van die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit as die hoof van ’n sekuriteitsmaatskappy in hegtenis geneem nadat AfriForum strafregtelike klagtes ingedien het.

Amptenare van dié munisipaliteit en die hoof van die sekuriteitsmaatskappy het na bewering tussen 2016 en 2018 tenderprosesse ter waarde van ongeveer R35 miljoen beïnvloed vir hul eie gewin. Luidens die polisie se verklaring is die sekuriteitsmaatskappy Zero Tolerance se dienste glo bekom sonder om die korrekte voorsieningskettingbestuursprosesse ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur te volg.
Die munisipale bestuurder en sekuriteitshoof het reeds in die hof in Kroonstad verskyn en sal weer in Augustus in die hof verskyn.
Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake, en Isolde Laesecke, voorsitter van AfriForum se Bethlehem-tak, het in 2017 vier strafregtelike klagtes teen amptenare en kontrakteurs van die munisipaliteit by die Valke ingedien. ’n Privaat ondersoekbeampte is gehuur om die inligting te ondersoek nadat verskeie fluitjieblasers na vore getree het. Hierdie ondersoeke het onder meer aangedui dat tenders onwettig aan kontrakteurs toegeken is en talle uitbetalings aan onreëlmatige fakture gemaak is.

“Ons is dankbaar dat die gereg ná twee jaar se ondersoeke seëvier. Ons is vyf dorpe – Bethlehem, Clarens, Fouriesburg, Paul Roux en Rosendal – wat baie swaarkry weens die korrupsie in die munisipaliteit. Hierdie arrestasies is ’n groot sukses vir AfriForum en hierdie dorpe,” sê Laesecke.
“AfriForum sal alles in sy vermoë doen om te sorg dat belastingbetalers se geld verantwoordelik bestee word. Ons is dankbaar dat die fluitjieblasers in hierdie saak na vore gekom het en moedig inwoners aan om voort te gaan om korrupsie bloot te lê,” sê Mostert.
“Hierdie sukses skep hoop vir alle gemeenskappe. Dit is weer eens ’n bewys van wat ons as gemeenskappe en AfriForum kan bereik as ons saamwerk. Ons sal aanhou om korrupsie en wanbesteding te beveg,” sê Jp Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Hoogland.

Wees deel van die oplossing en raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak en -buurtwag betrokke: SMS jou dorp se naam na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings