|

Munisipale dienslewering brandpunt voor verkiesings

Munisipale dienslewering is sekerlik een van die belangrikste funksies wat ʼn regering kan verrig.

So meen Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum.

“Toegang tot gehaltewater- en riooldienste, padinfrastruktuur en vullisverwydering is meer as net ʼn owerheidsdiens. Munisipale dienslewering is ʼn vertoonvenster van ʼn politieke party se praktiese regeringsvermoë. Die belangrikste politieke besluit van die nuwe politieke bestel behels dat daar wegbeweeg is van ʼn professionele munisipale administrasie.”

Volgens Jansen van Rensburg het transformasie, en nie dienslewering nie, die mikpunt van plaaslike owerhede geword.

Hy meen hoewel rasgebaseerde transformasieteikens wel bereik is, is die koste hiervan die ondergrawing van munisipale diensleweringsvermoë. Swak finansiële bestuur en groter lading op infrastruktuur (weens die drastiese wysiging in die geografiese samestelling van munisipaliteite), het volgens hom uitgeloop op ʼn ineenstorting van munisipale dienste.

“Die regstellendeaksieaanstellings het daartoe gelei dat onbekwame amptenare aangestel is. Dít, tesame met swak finansiële bestuur het, het daartoe gelei dat die bestuur van plaaslike owerhede in duie begin stort het.”

Met die munisipale verkiesing om die draai, sê van Rensburg dat die meeste landsburgers wonder of daar uiteindelik ʼn verandering in munisipale dienste sal plaasvind.

Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het in die naweek hul verkiesingsmanifes in Pretoria bekend gestel en ’n konkrete agtpunt-plan vir die verbetering van munisipale bestuur en dienslewering voorgelê.

Dit sluit onder meer in:

  • Aanstellings van amptenare moet op meriete gegrond wees en ʼn onmiddellike moratorium moet op regstellendeaksieaanstellings geplaas word met betrekking tot skaars vaardighede en poste wat vir langer as 90 dae vakant is.
  • Die desentralisering van plaaslike regerings, wat beteken dat mag afgewentel word so na as moontlik aan die gemeenskap deur die daarstel van subrade en kleiner munisipaliteite.
  • Veeltaligheid moet bevorder word in raadsvergaderings en diversiteit moet gekoester en gerespekteer word. Dit sluit in die verandering van plek- en straatname, wat volgens die VF Plus onnodig is.
  • Billike belastings en tariewe moet gehef word en onbillike verhogings gestaak word.
  • ʼn Gunstige omgewing vir die privaatsektor moet geskep word om ekonomiese groei en volhoubare werksgeleenthede te stimuleer en te skep – veral deur die skep van vryhandelsones.
  • Goeie morele waardes moet bevorder word.
  • Die VF Plus moet as die magsbalans binne veelpartyregerings optree en veg vir die regte van VF Plus-kiesers binne sodanige regerings.
  • VF Plus moet as effektiewe waghond ten opsigte van wanbestuur, korrupsie, onbevoegdheid, ensovoorts optree en ʼn dinamiese gestruktureerde opposisierol vervul.

Dr. Mulder, leier van die VF Plus, het tydens die bekendstelling klem gelê op die ANC se totale mislukking op plaaslike regeringsvlak. Hy het gesê dit word bewys deur die jongste verslag van die ouditeur-generaal (OG) wat bevind het dat 92% van alle munisipaliteite in die land bankrot is.

Des van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het onlangs ook uitspraak gelewer oor die belangrikheid van amptenare se vaardighede en kwalifikasies. Hy het gesê die departement erken dat munisipaliteite se dienslewering benadeel word deur bestuurders sonder die regte vaardighede en kwalifikasies.

Nuwe maatreëls, wat ingestel word as deel van die departement se ingrypingsprogram, Back to Basics, sluit in posbeskrywings, aanstellingsbriewe en konsep-advertensies vir poste wat munisipaliteite moet gebruik. Volgens Tskanani Tskanane, Van Rooyen se woordvoerder, sluit die program ook riglyne vir dienskontrakte in.

As deel van dié program sal die aanstellingstydperk van amptenare verkort word, poste van senior bestuurders sal vanaf advertensiefase gemonitor word en volgens Tskanane is geakkrediteerde mense ook aangestel om te bepaal of amptenare aan die minimum vaardigheidsvereistes voldoen.

Soortgelyke plasings