Munisipale kragvoorsieningslisensies en dorpe se ekonomiese vooruitgang op die spel


AfriForum waarsku Eskom en die regering dat die nagevolge van die Noord-Gautengse hoë hof se beslissing dat sekere munisipaliteite se kragtoevoer afgesny mag word, die wankelende ekonomieë van dié plattelandse dorpies gaan verarm.
Die burgerregte-organisasie gaan ook ’n aansoek aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) rig ten einde die elektrisiteitsvoorsieningslisensies van die betrokke munisipaliteite wat nie aan die lisensievereistes voldoen nie, terug te trek.
Volgens Stefan Pieterse, AfriSake se woordvoerder, is die hofuitspraak slegte nuus vir klein dorpies se ekonomieë omdat die verkoop van elektrisiteit een van die hoofbronne van munisipale inkomste is. Elektrisiteit is uiteraard ook noodsaaklik vir dorpe se vervaardigingsektore.

“Munisipaliteite gaan minder inkomste genereer omdat besighede hul kragvoorsiening gaan privatiseer of na die metropole verskuif. Op die einde van die dag word die man op straat, nie die besighede nie, vir die wolwe gegooi,” sê Pieterse.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, is van mening dat die meeste groot maatskappye reeds hul krag direk van Eskom kry. Hierdie maatskappye sal nie so erg benadeel word nie. Roodt sê dat kleiner besighede in die toekoms op alternatiewe metodes van energieopwekking (byvoorbeeld kragopwekkers) sal moet staatmaak as Eskom die kragtoevoer afsny.
Volgens Marcus Pawson, hoof van plaaslike regering en omgewingsake by AfriForum, moet elke munisipaliteit ’n volledige geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) hê. Dit behels onder meer ’n finansiële en ekonomiese ontwikkelingsplan. Hierdie dokumente, indien dit korrek geïmplementeer word, kan ’n kardinale rol speel om die afsny van elektrisiteit strategies te verhoed om die ekonomiese impak van só ’n situasie te vermy.
Pawson sê verder dat kleiner munisipaliteite nie noodwendig oor kundiges beskik wat ’n behoorlike GOP kan opstel nie. Sonder hierdie ekonomiese en finansiële ontwikkelingsbeplanning, of waar verouderde GOP’s geïmplementeer word, gaan agterstallige munisipaliteite nie in staat wees om Eskom te betaal nie. Kragonderbrekings gaan klein- en mediumgroottebesighede se lewensvatbaarheid ondermyn en ekonomiese groei verhinder. Dit het die potensiaal om Suid-Afrika se plattelandse dorpies ekonomies te vernietig en mense se welvaart in hierdie gebiede uit te wis.

“AfriForum het die swak en ondeurdagte GOP’s van baie munisipaliteite gesien en ons kan tereg bekommerd wees oor die nagevolge van Eskom se kragbesnoeiings op besighede, mediese dienste en ander belangrike sektore,” sê Pawson.
“Eskom kan geensins roem op die bevel wat in sy guns beslis is nie. Suid-Afrika is in ’n ekonomiese wurggreep waar die enigste oplossing nou in die politici se hande lê met betrekking tot baie gemeenskappe se kultuur van wanbetaling, die swak administrasie van munisipaliteite, korrupsievlakke binne elke regeringsfeer en die skuldvlakke van staatsentiteite,” voer Pawson verder aan.

AfriForum gaan projekte voorberei vir intensiewe deelname aan munisipale beplanning en die bekamping van korrupsie binne elke regeringsfeer.
Om aan te sluit en jou steun aan AfriForum te gee, SMS die woord “HOOP” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings