|

MUNISIPALE VERKIESINGS – GRONDWETLIKE DILEMMA

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om ondersoek in te stel rakende die meriete van ’n aansoek wat deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) geloods gaan word om die munisipale verkiesings uit te stel en, indien wel, regsargumente aan die hof voor te hou. Dít volg nadat Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, tydens ’n mediakonferensie bevestig het dat die kommissie die aanbevelings van regter Moseneke sal volg en ’n hof met jurisdiksie sal nader om die 2021 munisipale verkiesings uit te stel.  

“Hoewel regter Moseneke aanbeveel dat die verkiesing uitgestel moet word, maak hy geen bevinding of dit volgens die Grondwet wel moontlik is nie. Die probleem is egter of die Konstitusionele Hof of die Verkiesingshof ’n aansoek gaan oorweeg wat eintlik grondwetlike wysiging vereis. Hierdie aansoek kan ’n groot impak op toekomstige regspleging hê,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake.  

Regter Moseneke noem in sy verslag dat daar nie eenstemmigheid is oor of die verkiesing moet plaasvind nie. Die verslag fokus daarop of dit vir die OVK moontlik is om die verkiesing vry en regverdig te hou op 27 Oktober 2021. Die verslag oorweeg ’n reeks faktore wat die volgende insluit: 

  • Die vermoë van politieke partye om hul verkiesingsveldtogte te loods. 
  • Wat mediese kenners se voorspellings gaan wees ten opsigte van die COVID-19-gevalle tydens die vierde week van Oktober. 
  • Die kapasiteit van die gesondheidsektor. 
  • Gemeenskapsimmuniteit en inentings.  
  • Die moontlike impak indien die verkiesing na Februarie 2022 uitgestel word. 
  • Die OVK se moontlike remedies rakende die situasie. 
  • Die impak op die munisipale begrotingsjaar. 

Die Grondwet en die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture is dit eens dat die munisipale rade se termyn nie oor langer as vyf jaar mag strek nie en dat die OVK ’n verkiesing moet hou binne 90 dae ná verstryking van die vyfjaartermyn. Dit blyk dat die Grondwet se bepalings hieroor gebiedend is en daar min – indien enige – beweegruimte vir ’n hof is om ’n uitstel van die verkiesing na 1 November 2021 te sanksioneer.  

Hierdie saak kan ’n groot impak hê op die hele grondwetlike bestel van Suid-Afrika. Daarom het AfriForum besluit om regter Moseneke se verslag, asook die aansoek wat deur die verkiesingskommissie geloods sal word te oorweeg en verder te ondersoek om moontlike toetreding tot die saak te oorweeg.    

Soortgelyke plasings