Munisipale waardasies: Gaan joune na!


Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit het pas hul waardasierol gepubliseer wat vir die volgende vier jaar geldig is. AfriForum wil dit ten sterkste benadruk dat hierdie ’n geleentheid is vir huiseienaars om hul waardasies na te gaan en seker te maak dat die munisipaliteit hul teen die regte tarief aanslaan.

“Hierdie is ’n geleentheid vir lede van die gemeenskap om seker te maak dat hulle eiendomwaardasies korrek bereken is, want dié waardasie tesame met die tarief bepaal jou eiendomsbelasting. Maak dus van dié geleentheid gebruik,” verduidelik Lambert de Klerk  AfriForum se Gauteng-Noord distrikskoördineerder.

Die Tshwane Metropolitaanse munisipaliteit het die waardasierol op hulle webblad beskikbaar gestel (http://www.tshwane.gov.za/sites/Residents/Services/Pages/PropertyValuations.aspx). Huiseienaars moet hul eiendom se besonderhede gaan soek en seker maak dat die waardasiebedrag van hulle eiendom korrek aangedui word. Indien daar ’n groot teenstrydigheid is, moet hulle teen hierdie waardasiebedrag beswaar maak deur die vorms in te vul wat op dieselfde webblad gevind kan word.

“Dit is egter belangrik dat huiseienaars te alle tye oor dié bedrae eerlik moet wees. Dit is sinneloos om ’n dispuut te begin bloot om ’n laer eiendomswaardasie te probeer bekom, terwyl dié laer waardasiebedrag nie die werklikheid weerspieël nie. Onthou dat aansoeke vir ’n laer eiendomswaardasie later na die waardasie-appèlraad geneem kan word, en as bevind word dat so ’n beswaar kwelsugtig was, kan ’n kostebevel teen die huiseienaar toegeken word,” sê Morné Mostert, AfriForum se koördineerder vir plaaslikeregeringsake.

AfriForum sal die situasie in die geval van teenstrydighede vir tendense dophou.

Soortgelyke plasings