Munisipaliteit begin straatligte herstel nadat AfriForum ingryp


Die AfriForum-tak in Kimberley het op 9 Februarie 2017 Projek Straatligpatrollie van stapel gestuur waarna die plaaslike munisipaliteit op 13 Februarie 2017 begin het om straatligte te herstel. Die tak is verheug dat die munisipaliteit dringend aan die saak aandag gee.
Die straatligprojek behels die opteken van straatligte wat buite werking is, sowel as ’n petisie om inwoners se ontevredenheid oor die kwessie aan te dui. Die Kimberley-tak het beplan om dié opnames en petisie aan mnr. G.H. Akharwaray, bestuurder van die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit, te oorhandig.

“AfriForum is nie hier om teen die munisipaliteit te werk nie, maar wil graag help waar ons kan. Ons is die stem van die gemeenskap en tree volgens die behoeftes van ons lede op,” sê Gideon Gouws, voorsitter van die AfriForum-tak in Kimberley.

Die plaaslike tak wag steeds op ’n afspraak met Akharwaray ná ’n versoek op 23 Januarie 2017 aan sy kantoor gestuur is. Die tak het hul wenslys aan die munisipale bestuurder gestuur, maar het steeds geen terugvoer ontvang nie. Die foutiewe straatligte is een van die punte op die wenslys.

“Ons is hier om saam met die munisipaliteit te werk. Die munisipaliteit het egter tot op datum ongelukkig nog nie vir AfriForum ingenooi en as ’n organisasie aanvaar nie,” sluit Linja van Wyk, AfriForum se streekskoördineerder vir die Noord-Kaap, af.

Soortgelyke plasings