|

MUNISIPALITEIT GEDWING OM WATER VOLHOUBAAR AAN DORPE TE VOORSIEN

Deur Alet Rademeyer

Die Modimolle-Mookgopong Plaaslike Munisipaliteit is vandag ingevolge ’n dringende hofaansoek gelas om water volhoubaar aan Naboomspruit, Roedtan en Thusang te lewer.

AfriForum, mnre. Philip van Staden, voorsitter van die AfriForum-tak in Naboomspruit, en Malesela Johannes Chaba, ’n inwoner, het ’n dringende aansoek teen die Modimolle-Mookgopong Plaaslike Munisipaliteit, dr. Meluse Mhlanga, waarnemende munisipale bestuurder, die Waterberg Distriksmunisipaliteit, die premier van Limpopo, ’n lid van die uitvoerende raad van die plaaslike regering in Limpopo en die minister van Water en Sanitasie gebring. Die saak is in die Hooggeregshof in Polokwane (Pietersburg) in Limpopo aangehoor.

In die aansoek eis die applikante dat twee boorgate wat in September 2020 in die Nyl-vallei gesink is, toegerus moet word en binne tien dae vanaf die aansoek aan die Mookgopong-waternetwerk gekoppel moet word.

Boorgate wat gesink is om ander te vervang, moet ook toegerus en aan die waternetwerk gekoppel word. Waterpompe moet ook by die Welgevondendam geïnstalleer word wat groot genoeg is en genoegsame kapasiteit het om die daaglikse toelaatbare kwota water te lewer. Daar moet ook seker gemaak word dat daar genoeg en voldoende onderdele in die store van die munisipaliteit is om binne twee weke ná die aansoek herstelwerk aan minstens die helfte van water- en elektrisiteitsinfrastruktuur in die munisipale gebied te doen.

Die applikante eis ook dat boorgatpompe wat water aan Mookgopong, Roedtan en Thusang voorsien, met noodopwekkers toegerus moet wees sodat water tydens kragonderbrekings gepomp kan word.

Laastens moet die respondente ook binne ’n bepaalde tyd ’n waterdiensontwikkelingsplan opstel.

“Inwoners het ’n grondwetlike reg tot skoon water. Dit is uiters kommerwekkend dat die hof die munisipaliteit moet beveel om dienste te lewer. Die dorpe sukkel geweldig met watervoorsiening en ons hoop dat hierdie oorwinning werklik ’n verskil sal maak,” sê Magdel Jansen van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Soortgelyke plasings