Munisipaliteit gee toe in Dordrecht na volgehoue druk deur AfriForum


Dordrecht in die Oos-Kaap het vir die afgelope jaar net twee ure per week water in hul krane. Volgehoue druk deur AfriForum op die Chris Hani Distriksmunisipaliteit het egter ’n mate van verligting vir inwoners gebring.
Die probleem het ontstaan toe die Hogsethdamwal gebars het en twee nuwe damme gebou is. Die groter een van die twee damme is op die verkeerde plek gebou en kry baie min afloop, terwyl die tweede, kleiner dam goed geleë is, maar nie genoeg water kan berg om in die dorp se waterbehoeftes te voorsien nie.
Volgens ’n kontrakteur wat werk vir die munisipaliteit gedoen het, was die bou van ’n nuwe dam onnodig. Die munisipaliteit moes eerder die bestaande dam teen ’n fraksie van die koste herstel en opgradeer het. Die betrokke kontrakteur het ook aan AfriForum genoem dat die munisipaliteit, ondanks teenstrydige raad van kundiges, boorgate gesink het wat onvoldoende is om die dorp in water te voorsien. Die boorgatpompe was hopeloos te sterk vir die hoeveelheid water wat gepomp kon word wat tot gevolg gehad het dat die gat baie vinnig leeggepomp is, die pompe drooggeloop en uiteindelik uitgebrand het.
Die munisipaliteit het ook aangekondig dat hulle vanaf 1 Julie 2017 rente op foutiewe agterstallige waterrekeninge sal hef. Verder is die twee watertrokke wat die inwoners vir die res van die week van water voorsien ook deur die munisipaliteit elders in die provinsie ontplooi.
Thomas van Dalen, AfriForum se koördineerder vir die Oos-Kaap, het op 28 Februarie 2017 ’n e-pos aan Moppo Mene, munisipale bestuurder, gerig waarin Van Dalen hom herinner aan sekere ondernemings wat hy tydens ’n vergadering op 21 Oktober 2016 gemaak het:

  • Dat die munisipaliteit ’n privaat kontrakteur sou aanstel om die opstel en uitstuur van waterrekeninge oor te neem, omdat Mene self erken het dat die munisipaliteit nie oor die bekwaamheid beskik om dit te doen nie.
  • Dat die munisipaliteit ’n amptenaar na elke dorp sou stuur om die foutiewe waterrekeninge uit te klaar.
  • Dat ’n munisipale verteenwoordiger saam met ’n verteenwoordiger van AfriForum watermeters in die onderskeie dorpe sou ondersoek.

Van Dalen het ook versoek dat die munisipaliteit geen rente op enige agterstallige rekeninge hef alvorens foute reggestel is nie.
Op 2 Maart 2017 het die munisipaliteit ’n algemene vergadering gehou waarheen AfriForum uitgenooi is. Thobeka Mqamelo, munisipale woordvoerder, het ná afloop van die vergadering gesê dat die munisipaliteit twee bykomende watertrokke na die dorp ontplooi het, tien watertenks gaan oprig en drie keer per week water na die dorp se opgaartenks gaan pomp. Mqamelo het ook belowe dat watertoevoer na Dordrecht teen einde Mei ten volle herstel sal wees.

“Toegang tot water is ’n grondwetlike reg en AfriForum sal alle pogings aanwend om die inwoners van Dordrecht by te staan om watertoevoer na die dorp te verseker,” sluit Van Dalen af.

Soortgelyke plasings