|

Munisipaliteit herstel rioollekkasie ná volgehoue druk deur AfriForum

Die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit het ’n rioollekkasie binne drie dae herstel nadat AfriForum se Welkom-tak die munisipaliteit op 22 Julie 2020 op terme geplaas het. Die tak het die munisipaliteit sewe dae gegun om die rioollekkasie in Powerstraat te herstel.

Volgens Johan Terblanche, voorsitter van AfriForum se Welkom-tak, het die rioollekkasie tot gevolg gehad dat sakeondernemings in dié straat nie behoorlik kon funksioneer nie aangesien die riool in hul sakepersele opgestoot het. “Rioolinfrastruktuur in ons dorp is ’n reuseprobleem en ons sien al hoe meer dat rioollekkasies soos dié ontstaan. Die nagevolge hiervan het ’n groot impak op ondernemings omdat hulle nie sake kan doen as die vrot water in hul persele vloei nie. Die riool borrel ook nie net in hul erwe nie, maar ook selfs in hul huise.”

Terblanche sê verder hoewel die tak bly is dat die een probleem nou opgelos is, is daar steeds baie werk wat gedoen moet word voordat die probleem heeltemal opgelos is. “Die Welkom-tak sal aanhou om druk op die munisipaliteit toe te pas om te verseker dat die probleem uit die weg geruim word. Dit is onaanvaarbaar dat mense in huise moet leef waar rou riool in hul erwe en wonings vloei. Dit het ook ’n enorme negatiewe gesondheidsimpak op die inwoners van Welkom en daarom sal ons aanhou veg vir die inwoners se reg tot ’n skoon en veilige omgewing.”

AfriForum het op 21 Mei 2020 strafregtelike klagtes teen die munisipaliteit ingedien oor rou riool wat in die strate vloei.

“AfriForum sal wéér strafregtelike klagtes teen die munisipaliteit gaan indien as die probleem nie opgelos word nie. Die munisipaliteit versuim om sy grondwetlike pligte na te kom en moet aanspreeklik gehou word,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof van Gemeenskapstrukture vir die sentraalstreek.

AfriForum se Welkom-tak nooi die gemeenskap uit om by die organisasie se toekomstige projekte en aksies betrokke te raak. Sluit by AfriForum aan en dra by tot die positiewe verskil: SMS “Welkom” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings