| |

MUNISIPALITEIT STORT BLOED IN KURUMAN, NIE ABATTOIR NIE

AfriForum het vandag nuwe inligting bekom wat daarop dui dat dit in werklikheid die Ga-Segonyana Plaaslike Munisipaliteit is wat bloed in ’n veld stort wat deel van ’n plaaslike natuurreservaat in Kuruman vorm, en nie ’n plaaslike abattoir nie, soos vroeër berig.

AfriForum het foutiewe inligting bekom dat dit die plaaslike abattoir is wat die bloedwater stort. Die organisasie het intussen bevestig dat die abattoir die munisipaliteit maandeliks betaal om bloed uit hul tenks te pomp en te verwyder. Dit is dus die munisipaliteit wat die bloed in die natuurreservaat stort.

AfriForum bied sy verskoning aan die betrokke abattoir.

AfriForum sal ook nou aan die munisipaliteit ’n brief rig om uit te wys dat dit die munisipaliteit is wat die bloed daar stort en eis dat stappe gedoen moet word om die probleem op te los. Dié brief en verdere bewyse is ook aan die Departement van Omgewingsake se Groen Skerpioene gestuur om verdere ondersoek in te stel.

AfriForum sal nie toelaat dat die munisipaliteit met hierdie onwettige storting voortgaan wat die gesondheid van mens en dier bedreig nie. AfriForum sal die nodige stappe doen om die skuldiges aan die pen te laat ry.

Soortgelyke plasings