|

Munisipaliteite se wanbesteding astronomies

Kimi Makwetu (ouditeur-generaal) en Andries Nel (adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake

Deur: Natasha Venter

Die ouditeur-genereaal (OG), Kimi Makwetu, het pas die regeringsoudit-uitkomsteverslag vir 2015/2016 vrygestel wat bevestig dat munisipaliteite landwyd byna R30,5 miljard aan vrugtelose, verkwistende, onreëlmatige en ongemagtigde uitgawes in hierdie oudittydperk bestee het.

Dít is 50% meer as die vorige oudittydperk. 

Die OG het bevind dat ’n gebrek aan verantwoordbaarheid en swak interne beheer en toesig, sleutelprobleme is wat gelei het tot dié astronomiese vlakke van wanbesteding.

“Dit is ironies dat hierdie bedrag byna dubbeld soveel is as die munisipale skuld wat aan Eskom verskuldig is. En steeds bly dít net groei,” sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslike regering.

Luidens die verslag het slegs 19% van munisipaliteite ongekwalifiseerde oudits met geen bevindings gekry. 57% se oudits was ongekwalifiseerd met bevindings, 14% was gekwalifiseerd met bevindings, 1% was ongunstig met bevindings, 4% was misken met bevindings en 5% het nie eers finansiële state ingedien nie.

Die provinsie met die hoogste persentasie (80%) skoon ouditopinies is die Wes-Kaap, gevolg deur KwaZulu-Natal met slegs 18%. Alhoewel Gauteng die enigste provinsie is waar 100% van munisipaliteite ongekwalifiseerde ouditopinies behaal het, kon slegs die Midvaal Munisipaliteit sy skoon ouditstatus behou.

Die OG het ook die swak gehalte van die finansiële state wat sommige munisipaliteite ingehandig het, uitgewys. Dít het die tydsduur en koste van die oudit vergroot.

Makwetu het gesê dat indien die OG nié die foute in die state geïdentifiseer en reggemaak het nie, net 31% (en nie 62%) van munisipaliteite ongekwalifiseerde ouditopinies sou gekry het.

Makwetu het munisipaliteite ook gewaarsku om konsultante op ’n oordeelkundige wyse aan te wend. “Ons het bevind dat die state van 130 munisipaliteite (57%), wat deur konsultante gedoen is, foute bevat het. Dít teen die agtergrond van konsultasiefooie vir finansiële verslagdoeningsdienste wat landwyd R838 miljoen beloop het. Dit laat mens wonder of die munisipaliteite die toepaslike basiese sisteme van interne beheer in plek het om akkurate en relevante jaarlikse rekeningkundige verslagdoening te doen,” het Makwetu gesê.

Mostert het gesê AfriForum sal die verslag bestudeer en daarna met die minister van samewerkende regering en tradisionele sake skakel om te verseker dat prosesse in plek gesit word om hierdie tipe wanbestuur en -besteding hok te slaan.

Mostert meen die OG se verslag kan nie as ’n diensleweringsmaatstaf gebruik word nie, maar is eerder aanduidend of munisipaliteite hul besteding rekenkundig korrek opskryf.

 

 

Soortgelyke plasings