#MyWoonbuurt: AfriForum se Centurion-tak en gemeenskap verwyder 2.5 ton vullis langs biblioteek
Die AfriForum-tak in Centurion het op 17 Augustus saam met die inwoners van Pierre van Ryneveld die area langs die Pierre van Ryneveld-biblioteek skoon te maak. Die area beslaan sowat 24 670m2 en 2.5 ton vullis is weggery. Dít was die tak se agtste gesamentlike skoonmaakaksie saam met die gemeenskap in 2024 en ten minste drie soortgelyke projekte word beoog voor die einde van die jaar.
Dié reusagtige taak is met behulp van AfriForum se Centurion-buurtspanne, die Tshwane Metro-polisie en verskeie sekuriteitsmaatskappye aangepak. Hierdie area was gewild onder kwaaddoeners en sluipslapers en daar is nagenoeg 30 ou selfone en ’n paar rekenaartablette in dié area gevind.
“Ons wil graag saam met gemeenskappe werk om projekte soos hierdie aan te pak. Dit is verblydend dat mense in hulle nommers opdaag om te kom help om hul omgewing skoon en netjies te maak. Hier was altesaam 40 individue wat gehelp het om hierdie projek ’n sukses te maak,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir groter Pretoria-Suid.
Ungerer doen ’n beroep op die gemeenskap om by hul plaaslike tak betrokke te raak deur www.wordlid.co.za te besoek en Centurion as tak te kies. Belangstellendes kan ook ’n e-pos stuur na centurion@afriforumtak.co.za.