|

Ná byna twee eeue is Die Gelofte steeds vir Afrikaners ’n wekroep

Tye verander, mense verander en selfs omstandighede verander. Tog is daar onuitwisbare historiese gebeure, soos Die Gelofte, wat oor geslagte heen gevier en gekoester is. Vandag, byna twee eeue later, is dit vir Afrikaners om verskeie redes steeds belangrik en relevant om dié dag te gedenk.

In Mei is Die Gelofte: ’n Musiekblyspel in AfriForum Teater op die planke. Dit is ’n projek van AfriForum in samewerking met Inhoud Huis Musiek.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê in tye wat daar druk op ’n gemeenskap is, gryp hulle terug na hul geskiedenis. Dit is ook die geval met Afrikaners. “Daar is baie druk op ons en mense kyk met nuwe oë na die geskiedenis. Die rede is omdat ons nou sit met ’n oorvereenvoudigde en verdraaide weergawe van die geskiedenis en die verlede.

“Afrikaners word as die skurke uitgebeeld en al die ander as die helde. Maar die situasie is baie meer kompleks as dit. Die Afrikaner se geskiedenis is een van oorlewing en nie oorheersing nie. Ons ouers was nie bomenslike helde nie. Hulle was gewone mense wat in buitengewone omstandighede buitengewone dinge vermag en prestasies behaal het. En Die Gelofte: ’n Musiekblyspel beeld dit baie goed uit,” sê Buys.

Hy hoop dat die blyspel daartoe sal lei dat Afrikaners ’n ewewigtige beeld van die geskiedenis het. “Soos prof. Hermann Giliomee (historikus) sê: ‘Elke gemeenskap het ’n normale geskiedenis nodig.’ Dis nie een waar jy net jou eie mense verheerlik nie, maar een waar daar in ewewig met die feite omgegaan word. Elke gemeenskap sien homself as die sentrum van die wêreld en skryf sy geskiedenis. Daarom is daar nie net een geskiedenis nie. Daar is geskiedenisse. Dit is belangrik dat die Afrikaner se kant van sy verhaal ook, sonder verdraaiings, vertel word.”

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, sê Die Gelofte is een van die Afrikaner se belangrikste historiese dae en een wat oor geslagte heen gevier, gekoester en onthou word. “Oor byna twee eeue heen het dit Afrikaners se karakter en identiteit gevorm. Oor dekades en verskeie geslagte heen het dit elke keer nuwe betekenis en relevansie gekry.

“Ons sien dit vandag weer. Tien jaar gelede was daar sowat 80 Geloftekomitees en nou is daar meer as 200 en word Geloftefeeste jaarliks regoor die land en Namibië gevier.”

Langner sê al hoe meer jongmense vier Die Gelofte. Dit is iets wat hulle aan hul kinders wil oordra en waarmee iets vertel word van wie ons is, waar ons vandaan kom en wat ons stryd en plek in die land is.

“Die Gelofte gee steeds vir ons geloofsankers waarmee ons ons toekoms kan bou. En dit inspireer ons om in hierdie land steeds ’n verskil te maak en die lig van die evangelie te laat skyn.”

Prof. Fransjohan Pretorius, afgetrede historikus, verduidelik daar is hoofsaaklik twee “weergawes” of standpunte oor Die Gelofte.

Die Gelofte het sy oorsprong in 1838 ná die moorde op Piet Retief by Dingaan se kraal en die sterftes van Piet Uys en sy seun, Dirkie, in April van daardie jaar. “Die wenkommando, onder leiding van kommandant-generaal Andries Pretorius, het toe besluit om op te staan teen Dingaan se impi’s. Hulle het dit in die geloof gedoen dat God aan hulle kant is en hulle sal help.

“Die gedagte van Die Gelofte het tussen Pretorius en Sarel Cilliers, hul geestelike leier, ontstaan en dit is vanaf 9 Desember tot die aand van die 15de (voor die Slag van Bloedrivier) by Wasbank afgelê. Dit het behels dat as God vir hulle die oorwinning gee, hulle die dag sal herdenk as ’n dankdag en dat hulle ’n kerk sou bou.

“Die tradisionele siening, wat in 1952 deel van die Sabbatsklousule van die Nasionale Party geword het, is die van Cilliers. Dit het neergekom op dit wat Cilliers op sy sterfbed in 1871 oor Die Gelofte in herinnering geroep en gedikteer het. Hy het gesê daar is besluit dat as God vir hulle die oorwinning gee hulle dit as ’n dankdag, soos ’n Sabbat, tot Sy eer sou vier. Hy het egter niks gesê van ’n kerk wat opgerig sou word nie.

“Die oprigting van ’n kerk is egter wel deel van Voortrekkerherinnering en opgeneem in die werk van G.B.A. Gerdener, wat Cilliers se biografie geskryf het. Daarin het hy erken dat hy die herinneringe van Cilliers bietjie aangepas het en die gedeelte oor die kerk wat opgerig sou word bygebring het. Die Gelofte is gevolglik gerekonstrueer met die bedoeling dat dit as ’n dankdag, soos ’n Sabbat, gevier sal word, ’n kerk opgerig sou word en dat die dag deur die nageslagte gedenk sal word.”

Pretorius verduidelik verder dat die skrywer W.E.G. Louw die gedagte van Die Gelofte in 1933 omgesit en verwerk het soos wat dit vandag algemeen bekend is.

Volgens Pretorius het daar vanaf die sewentigerjare weer veranderinge gekom. Toe is gekyk na die twee belangrikste oorspronklike dokumente naamlik Jan Bandjes se joernaal, sekretaris-generaal van Pretorius, tydens die gebeure. Sy weergawe is dat hulle die oorwinning sou vier, ter ere van God, tot in die laaste nageslagte. En hy het bygevoeg dat hulle ’n kerk vir God sal bou uit dankbaarheid.

Prof. Fransjohan Pretorius, afgetrede historikus.

’n Week ná die Slag van Bloedrivier, op 23 Desember 1838, skryf Pretorius egter, vanaf Dingaan se kraal, ’n brief waarin hy sê dat hulle die dag van oorwinning aan die Here sal opdra, as ’n dankdag sal vier én ’n kerk sal oprig.

Bandjes en Pretorius het nie ’n Sabbatdag vermeld nie, maar ’n dankdag ter ere van God en dat ’n kerk opgerig sou word. 37 jaar ná die gebeure sê Cilliers egter op sy sterfbed dat dit as ’n dankdag soos ’n Sabbat gevier sal word en hy vergeet van die kerk …

Vir hom as historikus, wie se voorvaders (die Mullers en die Meyers) by Bloedrivier geveg het, is Geloftedag iets besonders, sê Pretorius.

Van die hoogtepunte in sy lewe was om by die Voortrekkermonument te wees op 16 Desember en om op 16 Desember 1998 die hoofrede te kon lewer by die Bloedrivier Erfenisterrein, 160 jaar ná die gebeurtenis.

Hoe sien hy Geloftedag vandag? “Ons situasie is anders as in 1838 en in 1938. Afrikaner-nasionalisme het getaan, maar ons moet onsself handhaaf en vir my is Geloftedag ’n dag van verootmoediging voor God, ’n dag van selfondersoek en ’n dag van inkeer waar ek dink oor hoe my verhouding met God en met my medemens is,” sluit Pretorius af.

Soortgelyke plasings