|

Naboomspruit-tak woeker in Februarie

AfriForum se Naboomspruit-tak het gedurende Februarie 2020 verskeie projekte aangepak en die gemeenskap só ondersteun.

Dié tak het onder meer –

  • ’n boom verwyder wat voor ’n inwoner se erf omgeval het;
  • die begraafplaas beveilig en die gras daar gesny;
  • ’n vergadering met die verbruikersforum gehou oor die elektrisiteitsprobleme in dié dorp;
  • nóg ’n boorgatpomp herstel (die tak onderhou tans ses uit die tien boorgate in die dorp, wat watervoorsiening aan die gemeenskap met meer as 1,5 kl per dag laat toeneem het); en
  • slaggate op die Marken-pad met 200 sakkies teer herstel wat ’n sakeman geskenk het.

Die tak het nog 100 sakkies teer bestel om die pad na die De Brak-omgewing in samewerking met die plaaslike paaiedepartement te herstel.

Volgens Phillip van Staden, AfriForum se Naboomspruit-takvoorsitter, is dit belangrik dat gemeenskapslede proaktief betrokke raak deur probleme in die dorp sélf op te los. “Ons moet self verantwoordelikheid vir ons eie omgewing neem. Dít kan slegs bereik word deur ons op ’n gemeenskaplike doelwit toe te spits. Gemeenskapsbetrokkenheid speel ’n groot rol in die dorp en mense moet by bestaande strukture betrokke raak om só ’n daadwerklike verskil te maak,” sê Van Staden.

Die Naboomspruit-tak moedig inwoners van dié dorp aan om by die tak betrokke te raak en tot die positiewe verskil by te dra. Sluit aan deur “Naboom” na 45340 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings