Naka Drotské-aanval: AfriForum bevraagteken SAPD se ondersoekmetodes


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 5 Desember amptelik ’n navraag aan die SAPD se Tshwane-Oos-kluster gerig weens bekommernis oor die SAPD se nalatigheid in die ondersoek na die Naka Drotské-aanvalstoneel. Die toneel is nie na behore afgebaken nie, daar is versuim om verdagte voetspore te identifiseer en te lig voordat lede van die SAPD die toneel betree het, lede van die SAPD het op die toneel gerook, terwyl bewysstukke ook agtergelaat en/of oorgesien is (insluitend ’n handskoen wat vermoedelik aan een van die verdagtes behoort, asook ’n tang wat vermoedelik gebruik is om ’n draad te knip om toegang tot die perseel te verkry).

Die SAPD het voorts die absurde versoek aan Os du Randt gerig dat hy die koeëls wat in die hospitaal uit Drotské verwyder is by hom sal hou sodat die SAPD dit weer later by hom kan afhaal. Du Randt is ’n voormalige spanmaat en vriend van Drotské en was ook die aand van die voorval teenwoordig. Hy het Drotské na die hospitaal gehaas.
Verder is die klere wat Drotské tydens sy struweling met die aanvallers aangehad het ook nie deur die polisie by die ondersoek ingesluit nie. Drotské se familie het egter die klere veilig gehou en die SAPD daarvan in kennis gestel.

“Ons is baie teleurgesteld in die SAPD se optrede en diens. Hulle het 45 minute geneem om te reageer nadat ons hulle van die insident in kennis gestel het en die konstabels wat ons aanvanklike verklarings kom afneem het, het dit verbrou en het dit erken sonder om te blik of te bloos. Ons moes onsself toe wéér beskikbaar stel om die verklarings later na behore te voltooi. Ons is baie ontevrede hieroor,” sê Tinus Drotské, Naka se broer.
“Die Kameeldrift-distrik waar die voorval plaasgevind het, het gedurende die jaar ’n vlaag van misdaad beleef. AfriForum word toenemend deur inwoners van die distrik genader met klagtes oor die SAPD se onvermoë en laksheid in die hantering van gevalle van misdaad, spesifiek ook in hierdie omgewing,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.
“AfriForum sal voortdurend druk op die SAPD plaas om hul grondwetlike mandaat uit te voer om die publiek te beskerm en hul veiligheid te verseker en ons sal elke beskikbare forum gebruik om dit te bewerkstellig,” sluit Cameron af.

Soortgelyke plasings