Naledi-bestuurder ignoreer AfriForum aanbod – Stella steeds watertekort


Die inwoners van Stella gaan weens ’n foutiewe transformator, wat veroorsaak dat waterpompe nie werk nie, onder ’n watertekort gebuk. Die AfriForum-tak in Vryburg, waaronder Stella val, het aangebied om die koste vir die herstel daarvan te dra. Tshepo Bloom, munisipale bestuurder van die Naledi Plaaslike Munisipaliteit, ignoreer egter dié aanbod.

AfriForum het ’n skrywe aan Bloom gerig om sy munisipaliteit met die herstel van die transformator te help, aangesien die Naledi Plaaslike Munisipaliteit nie oor die nodige fondse beskik nie. Die voorwaarde was dat die munisipaliteit AfriForum later sal vergoed, aangesien die instandhouding van die waterpompe die munisipaliteit se plig is. Bloom is versoek om ’n skrywe aan die AfriForum-tak te rig – as beskerming teen regsimplikasies – waarin hy die tak toestemming gee om die herstelwerk te doen, maar die brief is steeds nie ontvang nie. Die takbestuur sukkel die laaste tyd ook om Bloom enigsins in die hande te kry.

“Dit is duidelik dat Bloom nie ons inwoners se belange op die hart dra nie. Sy houding teenoor AfriForum is merkbaar negatief sedert hy as munisipale bestuurder aangestel is, wat ook AfriForum se verhouding met die Naledi Plaaslike Munisipaliteit skade gedoen het. Vryburg en Stella se inwoners betaal nou die prys daarvoor omdat hulle geen dienslewering ontvang nie. Bloom het onlangs ’n vergadering met AfriForum verlaat omdat hy nie wou toelaat dat hul gesprekke vir notule- en rekorddoeleindes opgeneem word nie. Hy het ook nie vir daaropvolgende vergaderings met AfriForum opgedaag nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
“Die AfriForum-tak in Vryburg gaan voort om Stella se gemeenskap self te ondersteun sodat die inwoners immers voldoende toegang tot water kan kry. AfriForum en die gemeenskap sal moet saamstaan en na hul eie behoeftes omsien tot Bloom en die Naledi Plaaslike Munisipaliteit hul verantwoordelikheid begin nakom,” sluit Pretorius af.

SMS “Vryburg” na 45350 (R1) om by jou naaste AfriForum-tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings