Nasionale Gesondheidsversekering geen Utopia vir Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel


AfriForum veroordeel dr. Zweli Mkhize, nuwe minister van gesondheid, se aankondiging dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)-plan so gou moontlik ingestel moet word. Mkhize het vandag tydens ’n mediakonferensie beweer dat die vraag nie is óf die NGV ingestel gaan word nie, maar eerder wanneer, en dat hierdie stelsel ongelykheid in gesondheidsorg sal uitwis. Mkhize se beloftes van ’n Utopia vir die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel is egter net ’n rookskerm vir die ANC om hul kommunistiese agenda verder te dryf.

“Die oorgrote meerderheid van staatshospitale en -klinieke voldoen nie aan basiese mediese standaarde nie. Daarom het die staatsgesondheidsdiens tot R56 miljard (’n kwart van verlede jaar se begroting vir gesondheidsdienste) aan die uitbetaling van nalatigheidseise bestee. Dit is ’n duidelike aanduiding dat die regering nie eers die staatsgesondheidsdiens na behore kan bestuur nie. Hierdie inmenging in die privaat gesondheidsektor druis in teen vryemarkbeginsels en sal uiteindelik tot die ineenstorting van die bedryf lei,” sê Natasha Venter, veldtogbeampte by AfriForum.

Tóg is Mkhize van opinie dat al die kwessies binne die gesondheidsdepartement nie opgelos hoef te word voordat die NGV ingestel word nie. “Volgens die ouditeur-generaal se verslag het die gesondheidsdepartement in die 2017/2018-boekjaar een van die slegste oudits van al die departemente gekry. So Mkhize se argument dat hospitale – weens die land se algehele finansiële probleme – min hulpbronne het en daarom nie na behore dienste kan lewer nie, is maar flou,” sê Venter.
Ironies genoeg het die minister besluit om die mediakonferensie by die Mamelodi-hospitaal te hou, waar Martha Marais (76) verlede maand op die vloer van die hospitaal met haar hande agter haar rug vasgemaak is en vir agt ure só moes lê.

“AfriForum is tans besig om ’n verslag saam te stel oor die gebreke in die gesondheidsektor. Die stories wat die publiek vir ons stuur, is angswekkend en die instelling van die NGV gaan net tot verdere en erger rillerstories lei. Die NGV  gaan enige iemand van hul reg ontneem om te besluit watter diensverskaffer hulle wil gebruik, wat sal beteken dat privaat hospitale en klinieke nie meer vir pasiënte hoef te kompeteer nie,” sê dr. Eugene Brink, AfriForum se strategiese raadgewer vir gemeenskapsake.

  • Klik hier om meer te lees oor watter gevolge die NGV vir jou kan inhou.
  • Klik hier as jy ’n rillerstorie oor gesondheidsorg met AfriForum wil deel.

Soortgelyke plasings