|

NAVORSING WYS HOSPITALISASIE EN COVID-19-STERFTES NEEM AF MET DOELTREFFENDE INENTINGSPROGRAMME

Deur Alet Rademeyer

Die wêreld is reeds die afgelope 18 maande in die kake van die dodelike COVID-19-pandemie vasgevang. Sedert die virus uitgebreek het, was daar wêreldwyd 186,6 miljoen bevestigde gevalle en 4 miljoen sterftes.

Tot op hede is 3,1 miljard mense in 140 lande teen COVID ingeënt.

In die lig hiervan het die Solidariteit Beweging omvattende navorsing gedoen ten einde mense te help om ingeligte keuses tydens die krisis en rondom entstof te kan maak.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut, het vandag tydens ’n sitkamergesprek, verduidelik wat van die belangrikste bevindinge is.

Luidens die verslag is daar bevind dat entstowwe ʼn doeltreffende en veilige manier is om die COVID-19-pandemie te beëindig. ’n Ontleding is gedoen van tendense in lande waar ’n doeltreffende inentingsprogram van stapel gestuur is. In lande soos Israel, Brittanje en die VSA is daar duidelike bewyse dat daar waar meer mense ingeënt is, daar ’n afname in hospitalisasie en sterftes is.

Navorsing toon dat Pfizer, Moderna, Johnston & Johnston en AstraZeneca veilig vir die meeste mense is. Dieselfde kan nie in die stadium van Chinese en Russiese entstowwe gesê word nie.

Mulder wys egter daarop dat elke mens se situasie, gesondheidstoestand en omstandighede verskil en dat newe-effekte van mens tot mens sal verskil indien dit voorkom. Dit bly elke individu se reg en keuse om te besluit of hulle die entstof wil kry. Solidariteit beveel aan dat mense wat onseker voel, hul dokter vir meer inligting en advies nader.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê groot getalle van die Solidariteit Beweging se lede en ander Suid-Afrikaners gaan binne die volgende weke ʼn keuse oor entstowwe moet maak. “Ons wil ons lede en ander Suid-Afrikaners in staat stel om verantwoordelike keuses te maak. COVID-19 tref ons almal swaar en almal smag daarna om ʼn einde aan die pandemie te bring.”

Hy het daarop gewys dat daar vergeleke met verlede jaar ’n 49%-toename is in mense wat van die vakbond se begrafnisskema gebruik gemaak het. “Dit is belangrik dat ons ’n doeltreffende inentingsprogram in plek kry anders gaan die golwe met die virus net toeneem. Die navorsing wat gedoen is, bewys dat die newe-effekte van entstowwe glad nie met die gevolge van COVID vergelyk kan word nie.”

Dr. Ben de Klerk, ’n mediese praktisyn in Alberta, Kanada, sê hy stem saam met die navorsing en bevindings in die verslag. Hy beaam dat inenting sterftes en hospitalisasie afbring.

Hy het ook gewys op die moontlike ernstige langtermyn gevolge van mense wat van COVID herstel het of aan sogenaamde lang COVID ly. Dit sluit in verlamming, breinnewels, kortasem, moegheid, angstigheid, depressie, slaap- en balansversteurings. Hierdie risiko’s is groter as wat entstowwe het en daarom beveel hy aan dat mense wat kan so gou moontlik ’n entstof teen COVID kry.

Mulder wys daarop dat daar nie bewyse is dat mense wat ingeënt is nie COVID kan kry nie. Dit is wel duidelik dat die entstowwe meer beskerming bied en tot gevolg het dat baie mense minder ernstige simptome het of selfs sterf as hulle die entstof gekry het. Dit verskil egter ook van individu tot individu.

Die Beweging is steeds bekommerd oor die regering se inentingsprogram en veg voort teen nasionalisering van die proses en die beskikbaarstelling van entstowwe.

Vir meer inligting, gaan lees die verslag by https://corona.org.za/wp-content/uploads/2021/07/Entstowwe-%E2%80%93-Hulp-of-Hinder.pdf

Soortgelyke plasings