|

Nelspruit en D.F. Malan kraai koning by AfriForum se 2017 Dink of Sink-kompetisie

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch en Marelie Greeff

Hoërskool Nelspruit het vanjaar weggestap as wenners in die seniorafdeling van die tweede interprovinsiale Dink of Sink-debatskompetisie, terwyl Hoërskool D.F. Malan se span koning gekraai het in die juniorafdeling.

Na drie nasionale streeksuitdunrondtes het die streekswenners, naamlik Hoërskool D.F. Malan, C&N Oranje Sekondêre Meisieskool, Helpmekaar Kollege en Hoërskool Nelspruit teen mekaar te staan gekom vir dié debatfinaal wat deur AfriForum in samewerking met verskeie media-vennote insluitend Beeld, Volksblad, Die Burger en Die Groot Ontbyt, aangebied is.

Hoërskool Nelspruit se seniorwenspan het bestaan uit Gerhard van der Merwe, Josua Matthee en Wehan Viljoen en D.F. Malan se juniorwenspan het bestaan uit Ila Alberts, Heinrich Crous en Neal Malan.

Onderwerpe in dié finaal het gewissel van die noodsaaklikheid van ’n universiteitsgraad om suksesvol te wees, tot die wettiging van dwelms en of Kanye West meer relevant as William Shakespeare is.

Gerhard van der Merwe, ʼn lid van Nelspruit se seniordebatspan, het aan Forum Nuus gesê dat dit vir dié span ʼn groot eer was om deel te neem aan die finaal van die kompetisie én dan ook nog weg te stap as die wenners. Wehan Vijoen, ook ʼn lid van dié wenspan, het na afloop van sy span se sukses gesê hy hoop dat hul skool nou meer erkenning aan kultuur sal gee.

Ila Alberts, ʼn lid van Helpmekaar se juniordebatspan, sê dat hul span hul sukses toeskryf aan hul toegewyde afrigters en goeie samewerking. “Ons neem nou al die hele jaar as span deel aan debatskompetisies en ons is so bly dat al ons ure se oefening ná skool nou vrugte afgewerp het. Volgens Heinrich Crous, ook ʼn lid van dié span, beteken die wen ook baie vir hul skool. “Ons is trots om te se dat ons so ver gekom het en ons hoop om ons skool se naam hoog te hou met dié wen.” Neal Malan, die derde lid van die Helpmekaarspan, het bygevoeg dat hy ander leerlinge sal aanmoedig om ook aan debat deel te neem omdat dit jou dwing om op jou voete te leer dink.

Volgens Jo van Eeden, hoofredakteur van Netwerk 24, en een van die beoordelaars by vanjaar se finaal, is dit vir die mediavennote ook ʼn eer om deel te wees van die kompetisie omdat hulle kinders wil aanmoedig om te lees en hulself toe te rus met inligting sodat hulle weet wat in die wêreld aangaan en daaroor kan debatteer. “ʼn Groot deel van die kompetisie behels kritiese denke en die enigste manier hoe mens krities kan dink is om ingelig te wees, daarom moet die leerlinge seker maak hulle weet wat aangaan in die wêreld en hulself bemagtig met soveel as moontlik inligting.”

Volgens dr. Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit en beoordelaar, is die Dink of Sink-kompetisie ontsaglik belangrik vir Afrikaans. “Die kompetisie gaan oor taalvaardigheid en om vinnig op jou voete te kan dink. Ek dink dit is ʼn prestige kompetisie en ons het al gesien, in die Afrikaanse en ander taalomgewings, hoe só kompetisie mense entoesiasties maak oor ʼn taal.”

Adv. Gerrie Nel, ook ʼn beoordelaar, het gesê hy is beïndruk met en trots op elke leerder wat aan die finaal deelgeneem het. “Debatvoering en veral die vermoë om ’n standpunt onder druk te kan formuleer en ander van jou standpunt te oortuig, is ’n waardevolle vaardigheid wat hierdie jongmense reeds het. Ons gaan weer van hierdie leerders hoor as regsgeleerdes, akademici en as politieke leiers van die toekoms.”

Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, het ook gesê dat AfriForum moedertaalonderrig wil bevorder deur hul betrokkenheid by dié debatskompetisie. “Dit is die ideale geleentheid om Afrikaans as onderrigtaal uit te bou. Debatvoering is ook ’n belangrike vaardigheid wat reeds van kindsbeen af by leerlinge gekweek moet word.”

Soortgelyke plasings