Nersa moet tariefverhoging verduidelik


AfriForum het die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) vandag versoek om redes te verskaf vir die toestaan van ’n 9,4%-tariefverhoging vir die 2019/2020 finansiële jaar op 7 Maart 2019. Hierdie besluit kom in werklikheid neer op ’n 13,8%-verhoging omdat verskeie bedrae vir regulatoriese aansuiweringsrekenings (RAR) (Engels: Regulatory Clearing Account) terselfdertyd aan Eskom beskikbaar gestel word.

Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake, sê die tariefverhoging is byna dubbeld die verbruikersprysindeks. “Ons wil weet hoe Nersa só ’n hoë tariefverhoging kon toestaan, terwyl Eskom miljarde rande weens wanbesteding en korrupsie vermors het. Dié tariefverhoging veroorsaak dat betalende verbruikers ander kragopwekkingsmetodes oorweeg om hulle in hul kragbehoeftes te voorsien. Die openbaredeelnameproses het dit aan Nersa duidelik gemaak dat gemeenskappe nie langer Eskom se korrupte aktiwiteite kan befonds nie. Met hierdie tariefverhoging blyk dit egter dat Nersa die publiek nie ernstig opneem nie.” 

Nersa moet boonop binnekort die kragtariefriglyne vir munisipaliteite bekend maak, wat beteken dat munisipaliteite, benewens die 13,8%, addisionele tariefverhogings kan instel.

“Munisipale kragverbruikers moet op hoogte bly van die persentasie waarmee munisipale tariewe aangepas word, want dit moet met Nersa-riglyne ooreenstem. Ons is bekommerd dat Nersa jaar ná jaar toelaat dat die verbruiker in wese die korrupte aktiwiteite by Eskom befonds,” sê dr. Eugene Brink, AfriForum se strategiese raadgewer vir gemeenskapsake.

Soortgelyke plasings