Net week oor om kommentaar op wetsontwerp vir nasionale gesondheidsversekering te lewer – AfriForum


Die burgerregte-organisasie AfriForum doen vandag ’n dringende beroep op die publiek om hul kommentaar oor die wetsontwerp vir nasionale gesondheidsversekering (NGV) voor 20 September in te dien. Die wetsontwerp is op 21 Junie gepubliseer en AfriForum het die webblad www.jougesondheid.co.za geskep om dit vir die publiek maklik te maak om beswaar teen die NGV-wetsontwerp aan te teken.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer by AfriForum, sê NGV hou vele rampspoedige gevolge in. “Eerstens weet ons bloot nie wat dit gaan kos of wat dit moet kos nie. Die wetsontwerp is waarskynlik doelbewus vaag hieroor omdat die koste vir die belastingbetaler skrikwekkend hoog gaan raak en die regering eers die fonds wil skep en later die rekening vir ons stuur.
“Dit poog ook om die privaat gesondheidsorgsektor en mediese fondse te vernietig. Ons gaan dan almal aan die openbare gesondheidsektor se treurige toestande uitgelewer wees en die staat se las gaan bloot verhoog word,” sê Brink.
Volgens Brink moet die staat eers hand in eie boesem steek. “Korrupsie en onreëlmatige besteding, mediese nalatigheid, lae moraal en regstellende aksie is wesenseienskappe van vandag se openbare gesondheidsorgstelsel in Suid-Afrika. NGV gaan bloot ’n groter en veel duurder weergawe hiervan wees indien dié probleme nie eers opgelos word nie.”
Brink sê hierdie is net sommige van die redes waarom hierdie wetsontwerp en NGV as idee heeltemal verwerp moet word. “Besoek daarom ons webtuiste en volg die kort, maklike stappe om jou stem vir jou, jou gesin en die land se gesondheid dik te maak.”

Soortgelyke plasings