|

Netbal Suid-Afrika se president oneerlik

AfriForum loods vandag ’n veldtog teen Cecilia Molokwane, president van Netbal Suid-Afrika (NSA), wat daarop gemik is om Molokwane te laat skors, hangende ’n ondersoek teen haar. AfriForum het klagtes ontvang dat Molokwane haarself wangedra het en rassistiese uitlatings tydens die Spar-vrouenetbalkampioenskappe in Augustus vanjaar gemaak het. AfriForum het NSA versoek om Molokwane te ondersoek, waarop Molokwane geantwoord het dat sy geen kennis van enige klagtes teen haar dra nie en dat sy nooit sulke uitlatings gemaak het nie.

AfriForum het egter vertroulik verneem dat daar wel ná afloop van die Spar-vrouenetbalkampioenskap klagtes teen Molokwane by NSA ingedien is. Molokwane het boonop die betrokke provinsie se president gekontak en oor die kole gehaal omdat ’n klag deur dié provinsie ingedien is. AfriForum het ook verneem dat Molokwane talle lede van NSA dreig nadat die nuus oor die klagtes teen haar die afgelope week aan die lig gekom het.

AfriForum het op Vrydag 15 November 2019 ’n prokureursbrief (PAIA-aansoek) aan NSA gerig waarin die organisasie alle klagtes aanvra wat ná afloop van die Spar-vrouenetbalkampioenskap by NSA ingedien is. AfriForum het ook versoek dat Molokwane tydelik geskors word hangende die ondersoek teen haar.

“NSA moet netbal nou bó Molokwane plaas. Weens dié klagtes teen haar – vererger deur haar blatante leuens en die intimidasie van personeel en lede van NSA – kan sy nie meer as president dien terwyl die ondersoek aan die gang is nie. NSA het geen ander keuse as hom haar te ondersoek nie,” sê Henk Maree, woordvoerder vir AfriForum.

Hierdie is een van vele gevalle wat AfriForum tans ondersoek as deel van die organisasie se breër veldtog om regverdigheid en gelykheid in netbal in Suid-Afrika te verseker. AfriForum is ook van voorneme om die Internasionale Netbalfederasie as deel van dié breër veldtog te betrek.

AfriForum versoek lede van die publiek om die saak teen Molokwane te ondersteun deur hul name by die klag te voeg. Hul kan dit doen deur AfriForum se webtuiste by https://afriforum.co.za/oneerlike-netbal-sa-president/ te besoek.

Soortgelyke plasings