|

NGV: AfriForum mobiliseer gemeenskappe om openbare verhore by te woon

AfriForum gaan binne die volgende twee weke gemeenskapsvergaderings in Mpumalanga en die Noord-Kaap hou. Dié vergaderings het ten doel om die gemeenskap te mobiliseer om die openbare verhore oor die wetsontwerp op nasionale gesondheidsversekering (NGV) by te woon, ten einde kommentaar teen dié destruktiewe wetsontwerp te gee.

AfriForum sal tydens die gemeenskapsvergaderings meer duidelikheid gee oor die skadelike impak wat die implementering van die NGV-wetsontwerp kan hê en sal ook enige vrae van gemeenskapslede beantwoord. Verteenwoordigers van AfriForum gaan dan die openbare verhore bywoon om die burgerregteorganisasie se teenstand teen die NGV te kommunikeer.

“Ons wil die publiek aanmoedig om die NGV op elke moontlike wys teen te staan. Hulle kan dit doen deur aanlyn kommentaar in te dien, asook deur vir AfriForum hul mandaat te gee om die wetsontwerp namens die gemeenskap teen te staan. Ons wil egter beklemtoon dat dit belangrik is dat mense die openbare verhore bywoon om weerstand teen die NGV te bied. Hoe meer teenstand die gemeenskap bied, hoe kleiner is die kans dat die wetsontwerp uiteindelik as wet uitgevaardig word,” sê Natasha Venter, AfriForum se woordvoerder vir die NGV.

Die openbare verhore vind van 25 tot 29 Oktober in Mpumalanga plaas en van 1 tot 4 November in die Noord-Kaap. Datums vir die verhore in ander provinsies is nog nie deur die regering se portefeuljekomitee vir gesondheid verskaf nie. Verder is die lokale en tye van die verhore in Mpumalanga en die Noord-Kaap ook nog nie bekend nie. AfriForum sal die gemeenskap deurlopend op hoogte hou van reëlings rondom die openbare verhore.

“Die feit dat die reëlings vir die openbare verhore egter nog nie weergegee is nie, is tekenend daarvan dat die regering nie gereed is om ’n projek van hierdie omvang van stapel te stuur nie en dat die NGV gedoem is om te misluk,” meen Venter.

Die publiek kan hier klik https://afriforum.co.za/afdelings/veldtogte/nasionale-gesondheidsversekering/ om AfriForum se gemeenskapsvergaderings by te woon.

Soortgelyke plasings