|

NGV skend Grondwet: AfriForum gaan gesondheidsdepartemente vir wanbesteding van R5,8 miljard aankla

AfriForum het vandag tydens ’n mediakonferensie ’n omvattende verslag bekendgestel oor hoekom die inwerkingstelling van nasionale gesondheidsversekering (NGV) in Suid-Afrika ongrondwetlik sal wees. Die verslag verduidelik verder waarom die impakstudie waarop NGV gegrond is, totaal ontoereikend is en die wetsontwerp dus tersyde gestel moet word.

“Volgens die verslag maak Artikel 27 van die Grondwet net voorsiening vir toegang tot gesondheidsorg. Dit meld nêrens dat die staat verplig is om gesondheidsorg aan almal te voorsien nie. Trouens, as die regering se inmenging hierdie toegang verhinder, is dit ongrondwetlik. Wanneer ’n mens die huidige toedrag van sake in die gesondheidsdepartement oorweeg, het die staat beslis nie die kapasiteit om gesondheidsdienste aan almal in die land te verskaf nie. Dit beteken dus dat dit ongrondwetlik sal wees vir die staat om beheer oor die privaat gesondheidsektor oor te neem,” sê Natasha Venter, AfriForum se woordvoerder vir NGV.

Die regering plaas die skuld vir die swak gehalte van gesondheidsorg wat die staat bied, op die privaat gesondheidsbedryf en diegene met mediese fondse.

“In werklikheid word hierdie mense benadeel deur staatsinmenging en wanbesteding. Hul belastinggeld word reeds deur die departement van gesondheid wanaangewend en dan verkwalik die regering hulle omdat hulle privaat mediese dienste op hul eie onkoste aanskaf. Dit is verder grootliks die regering se toedoen – naamlik die oorregulering van die sektor – dat privaat mediese sorg só duur is,” sê Venter verder.

AfriForum het daarom ook hul plan aankondig om al nege provinsies deur die loop van hierdie week te besoek, waartydens strafregtelike klagtes ingevolge Artikel 86(1) van die Openbare Finansiëlebestuurswet, 1999 (Wet nr. 1 van 1999) teen die nege hoofde van die provinsiale gesondheidsdepartemente ingedien sal word.

Hierdie nege departemente is almal skuldig aan onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde besteding, met altesaam meer as R5,8 miljard se verkwisting in die 2017/2018-finansiële jaar. Hierdie inligting is uit die departemente se jaarverslae bekom.

Die eerste klagtes is direk ná die mediakonferensie teen die hoof van die Gautengse departement van gesondheid ingedien. Volgens hul jaarverslag het dié departement byna R1,4 miljard in die 2017/2018 finansiële jaar wanbestee.

“Dit is duidelik dat die regering se voorgestelde NGV-skema polities gemotiveer is en dat dit nie die gesondheidsuitkomste van die armste en kwesbaarste lede van die samelewing wesenlik sal verbeter nie. Die misbruik van belastingbetalers se geld is ’n nasionale krisis. Hierdie skema sal net tot die krisis bydra. Dit is tyd dat belastingbetalers druk op die Nasionale Vervolgingsgesag plaas om voorbeelde te maak van departementshoofde wat nie hul pligte nakom nie. Hulle is van die grootste oortreders wat die misbruik van belastingbetalergeld betref,” sê Monique Taute, AfriForum se hoof van se teenkorrupsie-eenheid.

Die feit dat die regering onlangs ’n teenkorrupsieforum vir gesondheidsorg gestig het, dui op die enorme omvang van die korrupsie en wanbesteding in die gesondheidsdepartement.

“AfriForum hoop dat hierdie forum daadwerklik sal optree in die hantering van hierdie klagtes, asook die uitwissing van ander korrupsie en bedrog in hierdie departement,” sluit Taute af.

AfriForum moedig die publiek aan om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas: SMS jou naam na 45344 (R1) of onderteken die klagtes op AfriForum se webtuiste by www.stopkorrupsie.co.za.

AfriForum moedig ook die publiek aan om NGV verder teen te staan deur hul mandaat vir AfriForum te gee en op AfriForum se webtuiste by www.jougesondheid.co.za kommentaar teen NGV in te dien.

Klik hier vir die verslag.

Soortgelyke plasings