NGV: Verdere kaderontplooiing en wanbesteding wag op ons

Deur Natasha Venter

Die onlangse nuus dat gesondheidsminister Zweli Mkhize sy sibkind as die gesondheidsdepartement se personeelhoof aangestel het, laat weereens die alarms afgaan oor die regering se beplande nasionale gesondheidsversekeringsfonds (NGV) – veral omdat daar reeds ernstige bewerings van korrupsie teen Sibusisiwe Ngubane Zulu was toe sy in die direksie van die Openbare Beleggingskorporasie gedien het. Hierdie nuus het bekend geword kort ná president Ramaphosa se aankondiging by die ANC se lekgotla dat die party strenger gaan optree wanneer dit kom by die keuringsproses vir “comrades” wat in regeringsposisies aangestel word. Duidelik gaan Cyril se mooi beloftes nie die status quo in die ANC verander nie.

Regeringsinstellings en entiteite in staatsbeheer is sprekende voorbeelde van watter skade die aanstel van onbekwame kaders kan aanrig. Die feit dat die gesondheidsminister sy familielid (wat na bewering korrup is) in só ’n hoë pos in sy departement aanstel en boonop volhou dat hy daardeur niks verkeerds doen nie, is kommerwekkend veral wanneer mens kyk na die NGV-wetsontwerp en die mag wat dit vir Mkhize sal gee.

Die ANC se beoogde gesondheidsversekeringsfonds kan potensieel die grootste staatsbeheerde entiteit in die land se geskiedenis wees met miljarde rande van belastingbetalers se geld wat jaarliks daarin gestort sal moet word. Volgens hoofstuk 4 van die wetsontwerp sal die mag om die raad van hierdie fonds aan te stel, byna uitsluitlik by die gesondheidsminister lê.

Die minister sal ’n raad van tot 11 persone aanstel wat nie in diens van die fonds is nie, en een lid wat die minister verteenwoordig. Die ad hoc-adviespaneel wat sy aanbevelings vir die samestelling van die raad aan die minister moet stuur, word egter óók deur die minister aangewys.

Artikel 10 van die wetsontwerp bepaal dat die fonds onder meer die volgende funksies sal hê:

  • Om hulpbronne saam te voeg om gesondheidsorgdienste, medisyne ens. aan te skaf
  • Die aankoop van gesondheidsorgdienste namens lede van die fonds (m.a.w. elke burger van die land)
  • Die aangaan van kontrakte met geakkrediteerde gesondheidsorgverskaffers
  • Die monitering van die registrasie-, lisensie- of akkreditasiestatus van gesondheidsorgverskaffers
  • Die vasstel van jaarlikse tariewe vir onder meer gesondheidsorgverskaffers
  • Die prioritisering van die tydige terugbetaling van gesondheidsorgdienste om billikheid te bereik.

So, in effek gaan die minister en sy raad die mag hê om medisyne en gesondheidsorgdienste aan te skaf teen ’n prys wat hulle self bepaal, van entiteite of persone met wie hulle self die mag het om kontrakte aan te gaan en as gesondheidsdiensverskaffers te akkrediteer. Dít terwyl die raad kan besluit watter verskaffers prioriteit geniet en die wetsontwerp nie duidelikheid bied oor die konsep van “gelykheid” nie …

Teenkanting teen die NGV word eenvoudig deur die regering afgemaak as komende van mense wat teen gehaltegesondheidsorg vir almal gekant is. Die werklike rede waarom organisasies en lede van die publiek die NGV teenstaan, is juis dat die ANC-regering en hulle kaders onbekwaam is om gehaltegesondheidsorg aan almal in die land te lewer. Die burgery behoort verder minder afhanklik van die staat te word, nie méér afhanklik nie, en die NGV sal in effek mense se gesondheid en lewens in die hande van die staat plaas.

Die ouditeur-generaal het in sy 2018/2019-oudituitkomste vir die nasionale en provinsiale regerings bevind dat byna R67 miljard in een jaar deur die regering vermors is, waarvan R4,16 miljard vrugteloos en verkwistend was. Volgens die ANC se voorlegging oor die NGV hoef die publiek egter nie bekommerd te wees oor korrupsie en wanbesteding nie, want die NGV-fonds sal:

  1. Jaarliks aan die parlement rapporteer;
  2. Bedrieglike aktiwiteite hokslaan deur die daarstelling van ’n risiko-enjin; en
  3. Aan toesig deur die teenkorrupsieforum vir die gesondheidsektor onderhewig wees.

Hierdie karige “voorsorgmaatreëls” is allermins gerusstellend. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) moet byvoorbeeld ook jaarliks verslae aan die parlement stuur en dit het niks gehelp om grootskaalse korrupsie en kaderontplooiing in hierdie staatsentiteit te verhoed nie.

Dit is dus ondenkbaar dat een persoon in effek die mag sal hê oor die gesondheid van ’n hele land se mense. Sê nou net daar word in die toekoms weer ’n gesondheidsminister aangestel wat beweer dat knoffel en beet beter geneesmiddels vir vigs is as teenretrovirale middels?

Natasha Venter is ’n veldtogbeampte by AfriForum en die organisasie se woordvoerder oor die NGV.

Foto: Daily Maverick (2017)

Soortgelyke plasings