Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se vullisterreine in haglike toestand


AfriForum het die vullisterreine in Parys en Heilbron besoek en ná ’n oudit bevind dat dit nie aan nasionale standaarde voldoen nie. Dié oudit vorm deel van ʼn jaarlikse nasionale veldtog waartydens vullisterreine in dorpe waar AfriForum-takke gevestig is aan die hand van 33 vrae gemeet word.
Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wet no. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. Dit sluit vereistes oor toegangsbeheer en regulasies oor onwettige storting, omheining en rehabilitasie, asook brandregulasies in. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om AfriForum se oudit te slaag.
Die vullisterrein in Parys het slegs 8% behaal. Die vullisterrein is gedeeltelik omhein, maar daar word byna geen beheer toegepas oor die tipe vullis wat gestort word nie. Onwettige vullis soos bande word ook toegelaat en diere loop tussen die vullis rond op soek na kos.

“Weens die feit dat Heilbron ’n onwettige stortingsterrein het wat aan geen wetgewing voldoen nie, het dit 0% behaal. Dit beskik nie oor ’n afvalbestuurslisensie nie, is nie omhein nie en dierkarkasse is by die ingang van die vullisterrein aangetref. Verder woon daar mense op beide vullisterreine, wat ’n groot gesondheidsrisiko inhou,” sê Stephen Nel, assistentkoördineerder vir AfriForum se sentraalstreek.

Nel sê voorts dat die algemeenste probleme wat AfriForum tydens die oudit ondervind het onder meer die afwesigheid van afvalbestuurslisensies is, asook dat geen munisipale werkers op die terreine gevind kon word nie, maar slegs herwinners wat daar werk én woon.
Sasolburg-vullisterrein is ook in hierdie streek geoudit en het met 6% nie die oudit geslaag nie.

AfriForum het ongeveer 120 vullisterreine geoudit in gebiede waar daar gevestigde AfriForum-takke is. Dié uitslae gaan in ’n verslag opgeneem en aan die departement van omgewingsake oorhandig word. “Ons is dankbaar vir die departement se samewerking en dat dit provinsiale afvalbestuursbeamptes vir ons oudits beskikbaar gestel het,” sê Chris Boshoff, AfriForum se omgewingsakekoördineerder.

Ná afloop van dié projek gaan AfriForum in samewerking met ’n afval-tot-energie-maatskappy ’n plan as alternatief vir vullisterreine in Suid-Afrika bekend stel. Soortgelyke projekte is uiters suksesvol in ander lande.
AfriForum het aanmaningsbriewe gestuur aan munisipaliteite waarvan die vullisterreine nie op standaard is nie. Die burgerregte-organisasie het ook aksieplanne en doeldatums versoek wat in plek gestel moet word om te verseker dat vullisterreine op ’n wettige, omgewingsvriendelike wyse bestuur word.
Die ouditverslag sal ook vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite aan die Groen Skerpioene oorhandig word.
AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine op standaard gebring word.

Soortgelyke plasings