| | |

NIE-FINANSIËLE DATA OOR MUNISIPALITEITE WEK KOMMER EN SKETS NIE VOLLE PRENTJIE – AFRIFORUM

Die burgerregteorganisasie AfriForum het kennis geneem van Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se niefinansiële gegewens vir 2019 en glo dat dit nie die werklike uitdagings en situasie ondervang nie.

Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê dat sekere van die inligting inderdaad kommer wek en dat gesamentlike nasionale syfers nie die deurlopende gehalte en beskikbaarheid van dienste weerspieël nie. “Daar is byvoorbeeld tans nie eens onlangse amptelike inligting oor die gehalte van drinkwater nie. Die regering reik nie meer hul Blou- en Groendruppelverslae uit nie.

“Daarbenewens is die beskikbaarheid van water in veral landelike gebiede maar toenemend in metropolitaanse munisipaliteite soos Johannesburg ’n reuseprobleem. StatsSA se syfers wys dalk dat drinkwater gelewer word, maar dit wys nie die wisselvalligheid van die beskikbaarheid en die gehalte daarvan nie.

“Die inligting wys weliswaar ook dat sommige munisipaliteite in armer landelike provinsies nie oor die vermoë beskik om gratis dienste soos riolering aan armlastiges te lewer nie. Die inligting handel ook net oor sekere dienste en toestande in bepaalde munisipaliteite en wys nie die werklikheid wat ons op voetsoolvlak waarneem nie, soos paaie wat disintegreer.”

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir Gemeenskapsake by AfriForum, sê dié organisasie is tans die enigste entiteit wat byvoorbeeld jaarlikse oudits oor sowel die gehalte van drink- en afvalwater as vullisterreine doen. “Die regering probeer hul swak dienslewering verdoesel deur bloot nie meer onlangse inligting uit te reik nie.”

Volgens Brink word die verbeurde geleenthede en huidige prentjie ook nie ten volle weergegee nie. “COVID-19 het groot verwoesting in 2020 veroorsaak en meer mense sal nou as armlastig geklassifiseer word weens verlore werkgeleenthede en die swak ekonomie. Al wys die inligting dat meer dienste soos water- en elektrisiteitsvoorsiening tussen 2018 en 2019 gelewer is en skynbaar minder gratis dienste omdat die getal geregistreerde armlastige huishoudings tussen die twee jare afgeneem het, sal die prentjie in 2021 baie anders lyk weens die groeiende armoedeprobleem.

“Die finansiële inligting sal ook later wys in watter krisis Suid-Afrikaanse munisipaliteite in die algemeen verkeer. ’n Breukdeel van hulle kry deesdae ’n skoon oudit: Korrupsie en onbevoegdheid vier hoogty, salarisrekenings is te hoog en kapitaalbegrotings word ook nie voldoende bestee nie. Die sogenaamde vordering om betaalde dienste te lewer, word deur die onvermoë van inwoners om te betaal, swak bestuur en verlore geleenthede ongedaan gemaak.”

Volgens Brink hang dit nou van die burgerlike samelewing en plaaslike gemeenskappe af om enersyds as waghond op te tree en andersyds oplossings te verskaf. “Die Koster-geval het getoon dat die gemeenskap met min vermoë dadelik ’n beduidende verskil aan diensleweringskwessies kon maak nadat die regering vir dekades slegs agteruitgang in die hand gewerk het.”

Hy sê uit die beskikbare inligting is dit duidelik dat die ANC niks omgee vir dienslewering en goeie bestuur in Noordwes se munisipaliteite nie. “Swak oudits en wanbesteding is aan die orde van die dag en dit verbeter eenvoudig nie. Hoewel behuising se syfers taamlik goed lyk, is dit ’n provinsiale bevoegdheid en nie munisipaliteite s’n nie. Die toestand en gehalte van vullisterreine, vullisverwydering, drinkwater, riolering  en die werkloosheidsvlakke dui alles op ’n langstaande krisis.”

Soortgelyke plasings