|

Nóg dorpe en takke bemagtig om korrupsie hok te slaan

Inwoners van Port Elizabeth in die Oos-Kaap is gisteraand breedvoerig ingelig oor wat hulle kan doen om korrupsie op plaaslikeregeringsvlak hok te slaan.

AfriForum se Knak Korrupsie-veldtog is onlangs van stapel gestuur en ’n werkswinkel is vir takbesture afgeskop om hulle te bemagtig om korrupsie op plaaslikeregeringsvlak uit te snuffel.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het reeds baie suksesvolle opleiding in verskeie dorpe aangebied, waaronder Nylstroom, Potchefstroom, Kuruman en Bethlehem. In van die dorpe daag meer as honderd mense op wat bekommerd is oor die vlak van korrupsie in hul dorpe.

Volgens Wico Swanepoel, AfriForum se regsadviseur vir plaaslike korrupsie, doen korrupsie afbreek aan morele waardes en raak dit almal in die gemeenskap. “Korrupsie ondermyn regsekerheid, dit skep wantroue in die oppergesag van die reg en is ook ’n teelaarde vir georganiseerde misdaad.

“Op plaaslikeregeringsvlak is korrupsie ook vir swak dienslewering en die ineenstorting van infrastruktuur verantwoordelik. Belastingbetalers verdien beter en daarom bemagtig AfriForum sy takbesture en word hulle ingelig oor presies wat korrupsie behels en hoe dit hokgeslaan kan word.”

Opleiding word vir sowel lede as nielede aangebied.

Onéca O’Dwyer, wat die sessie in Port Elizabeth bygewoon het, het na afloop van die byeenkoms gesê dit was ongelooflik insiggewend. “My sienswyse oor korrupsie is verander en ek besef nou dat klein dingetjies die verskil kan maak.”

Corinne Beck was dankbaar dat sy die vergadering bygewoon het. Sy is ’n raadgewer by skole en meen met die inligting tot haar beskikking is sy nou bemagtig om ook met ander mense te deel wat gedoen kan word om korrupsie die stryd aan te sê.

Nel het gesê hy is oortuig daarvan dat as mense korrupsie verstaan, hulle dit behoorlik kan aanpak.

Die opleidingsessie word Donderdag in Bellville aangebied, waarna Vryheid en Middelburg ook aan die beurt sal kom.

Soortgelyke plasings