|

Nóg hofsake kom om ANC-waansin te beëindig

Die verlenging van die ramptoestand wat pres. Cyril Ramaphosa ’n maand gelede aangekondig het, en ingevolge waarvan die land op vlak 3 van die inperking gehou is, verstryk Saterdag.

Dit is feitlik onmoontlik om te voorspel watter boodskap die land dié naweek van Ramaphosa of die Covid 19-bevelsraad kan verwag.

Dit is egter baie duidelik dat ’n voortgesette staat van inperking net verdere enorme skade aan die ekonomie en die voortbestaan van die meerderheid landsburgers sal doen.

Dit is juis in die lig hiervan dat die Solidariteit Beweging aangedui het dat hy die regering in die hof gaan probeer dwing om die staat van inperking uit te faseer omdat dit geen doel meer dien nie.

“Die regering se volgehoue pogings om ’n lomp nasionale inperking eerder as ’n slim, streekgebonde inperking te volg, het katastrofiese gevolge gehad,” sê Flip Buys, voorsitter van die Beweging.

Die hofaansoek teen die regering kan vandeesweek nog gebring word.

Intussen pak Saai, die familieboernetwerk, die regering ook op 18 Augustus in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria om die verbod op die verkoop en verbruik van wyn in restaurante ter syde te stel. Dié aansoek kom nadat Ramaphosa op 12 Julie wéér ’n algehele verbod op die verkoop en vervoer van drank aangekondig het.

Volgens Franscois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, is die  instelling van dié regulasies arbitrêr en irrasioneel. “Die regering se stelling dat die regulasies ingestel is om die verspreiding van die COVID-19-virus te beperk en om te voorkom dat die land se gesondheidstelsel oorbelas word, dra nie water nie.”

Saai en ander applikante in die saak, meen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, dryf ’n agenda teen alkoholgebruik en dat die verbod onmiddellik opgehef moet word.

Saai, wat ook tientalle wynboere verteenwoordig, sê in hofstukke voorts dat Dlamini-Zuma die Grondwet ignoreer wat daarvoor voorsiening maak dat drankwetgewing op provinsiale vlak beheer moet word.

Die alkoholverbod het reeds tot enorme werk- en inkomste-verliese gelei.

Die kansellasie van R5 miljard aan kapitaalbeleggings deur die wêreld se grootste bierbrouer, ABInBev, gaan ook ’n ernstige ekonomiese impak hê. Die besluit om dié belegging te kanselleer, het gevolg ná die verlies van 12 handelsweke waarin Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) 30% van sy jaarlikse produksie verloor het.

Die wynbedryf het weens die drankverbod reeds R3,3 miljard verloor en 117 000 werksverliese gelei.

Intussen duur hofgedinge teen die verbod op die verkoop van tabakprodukte ook voort. Saai het verlede week die belange van tabakboere verteenwoordig in die saak van British American Tobacco South Africa (BATSA) en nege ander partye teen Dlamini-Zuma. Die saak is in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangehoor en uitspraak is voorbehou.

Die verbod op die verkoop van tabakprodukte word op twee gronde betwis naamlik konstitusioneel en administratief.

“As die verteenwoordigers van tabakboere het ons aangevoer dat Regulasie 45 van die Rampbestuurswet tabakboere ontneem van hul reg om ’n bedryf, beroep of professie te kies, soos vervat in Artikel 22 van die Grondwet van Suid-Afrika,” sê Rossouw.

Hy meen tabakboere ly enorme ekonomiese skade omdat boere geen kopers vir hul produk het nie. Dit is ook nie lewensvatbaar om slegs op uitvoere staat te maak nie. Die verwagte verlies aan aksynsbelasting vir die fiskus is ongeveer R35 miljoen per dag.

BATSA meen die verbod het reeds meer as R4,5 miljard aan verlore aksynsbelastinginkomste gekos en 300 000 werksgeleenthede in gevaar gestel.

Justice for RSA (NPA), ’n belangegroep vir rokers, meen rokers se regte is deur die regering geskend en hulle het hul met twee versoeke tot die Konstitusionele Hof gewend.

Hulle wil hê dat hul saak dringend aangehoor word en systap die standaard-regsprosesse. Voorts vra hulle dat die verbod op tabakverkope ongrondwetlik en ongeldig verklaar word.

Soortgelyke plasings