|

NÓG MANNA NODIG SODAT MANNA VIR DIE BOERE MEDEBOERE KAN HELP

Deur Marthinus Koekemoer

Verlede jaar se verwoestende brande in die Wes-Vrystaat kon die einde van verskeie boere se besigheid beteken het, maar met die hulp van Manna vir die Boere het skenkings van regoor die land ingestroom om beeste, wat in die slaggebly het, te vervang.

“Sonder hulp sou verskeie boere gevou het,” sê Chris Liebenberg, AfriForum-lid, boer en koördineerder vir die verspreiding van diere wat geskenk is. “Ek het kort ná die brande oproepe begin kry van mense wat diere aan die plaaslike boere wil skenk en ek het soort van per ongeluk die koördineerder aan hierdie kant geword.”

Liebenberg boer sedert 2017 self in die omgewing. Vure moes aan twee kante van sy plaas geblus word, maar hy het nie ’n enkele dier in die brande verloor nie. Ander boere was nie so gelukkig soos hy nie. Party boere se verliese was nie te erg nie, maar Liebenberg noem daar is een boer wat meer as honderd beeste verloor het.

“Daar is 14 boere wat by die skenkings baat gevind het,” vertel Liebenberg. “Ons het grootliks verse ontvang en ons het ’n eenvoudige formule gebruik om diere wat dood is te vervang. Vir elke bul wat ’n boer verloor het, is twee verse gegee, vir elke koei een vers en vir elke drie kalwers twee verse.”

Tussen die boere van Boshof en Hertzogville het 335 beeste in die brande in die slag gebly. Met die formule wat gebruik is, is 314 van hierdie diere reeds vervang. Daar is egter nog verse wat op Kuruman gehaal moet word en nog ’n paar wat elders belowe is wat nog nie in berekening gebring is nie.

Daar is 14 boere wat by die skenkings baat gevind het.

“As ons eers al die diere gekry het, sal ons meer as wat ons voor gemik het ingekry het,” sê Liebenberg. “Daar was ook ongewone goeie reën oor die laaste paar maande wat gehelp het om weivelde vinnig te laat herstel. Was dit nie vir die reën nie sou dit ’n hele seisoen gewees het voor die boere weer van die weiding kon gebruik maak. Maar die herstel was so goed dat die weivelde ná enkele maande weer gebruik kan word. Die liewe Vader verskaf sóveel.”

Henk Maree, woordvoerder van Boks vir ’n Boer-projek by AfriForum, sê Manna vir die Boere gaan vanjaar voort. “Daar is nog baie gebiede in die Noord-Kaap en Karoo wat nog onder die droogte gebuk gaan,” sê hy. “Dis tans ons fokus gebiede met hulp vir boere. Ons sal ook as behoeftes elders ontstaan help. Die samewerking tussen verskeie organisasies is ongelooflik, maar ons het ook hulp van die publiek nodig. Die boodskap is eenvoudig, help waar jy kan.”

Manna vir die Boere is ’n beweging wat uit talle organisasies saamgeroep is en boere in nood help. Die organisasies is AfriForum, Saai, Caring Daisies, Agri NW, TLU Landbou, Save the Sheep, Droogte Hulp, Gift of the Givers en Boere in Nood.

Ná verlede jaar se ramp is meer as R14 miljoen se skenkings ontvang.

Die werklikheid is egter dat skenkings deurlopend moet wees aangesien noodverleniging nooit ophou nie en daar deurentyd boere in nood is wat hulp nodig het.

Obaro, ’n verskaffer van boerdery-toerusting, het pas R160 000 tot die Manna vir die Boere-fonds bygedra om boere in nood te help.

Iné Bester, bemarker by Saai, het ’n skenking van R160 000 by Obaro in ontvangs geneem.

Enigiemand wat ’n bydrae wil maak, kan dit doen by: https://www.givengain.com/cc/noodfonds/ of ’n betaling maak by:

Banknaam: First National Bank

Rekeninghouer: AfriForum NPC

Takkode: 261550

Rekeningnommer: 62349898398

Verwysing : Noodfonds

Soortgelyke plasings