|

Nomgcobo Jiba volgende in adv. Gerrie Nel se visier

Die omstrede adv. Nomgcobo Jiba, voormalige waarnemende direkteur en tans adjunkdirekteur van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), gaan deur AfriForum se privaat vervolgingseenheid op strafregtelike klagtes van bedrog en meineed vervolg word.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, het gesê dit is belang van geregtigheid dat Jiba privaat vervolg moet word.

Jiba se vervolging kom kort nadat AfriForum vroeër aangekondig is dat Duduzane Zuma, seun van pres. Jacob Zuma, ook strafregtelik vervolg gaan word nadat ’n vrou in ’n taxi gesterf het waarteen hy gebots het.

AfriForum se privaat vervolgingseenheid is ook met regsoptrede teen Grace Mugabe, presidentsvrou van Zimbabwe, besig nadat sy vroeër vanjaar glo vir Gabriela Engels, ’n model, in ’n hotel in Sandton met ’n verlengingskoord aangerand het.

Nel en AfriForum tree in die saak teen Jiba namens genl.maj. Johan Booysen, die destydse hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, op. AfriForum voer aan dat Jiba meineed gepleeg het toe sy Booysen op ’n aanklag van rampokkery vervolg het. AfriForum en Booysen voer ook aan dat daar ’n duidelike gevolgtrekking gemaak kan word dat Booysen onregmatig deur Jiba geteiken is ná Booysen begin het om ondersoek in te stel na die sakebedrywighede van Thoshan Panday, ’n KwaZulu-Natalse sakeman wat noue bande met die Zuma-familie het.

Booysen het Jiba se destydse beslissing op hersiening geneem en regter Trevor Gorven het die aanklagte van rampokkery in Februarie 2014 in die KwaZulu-Natalse hoë hof in Durban tersyde gestel. Gorven het gesê daar bestaan geen rasionele verduideliking – “selfs losweg gedefinieer” – wat Jiba se beslissing steun nie.

Adv. Mxolisi Nxasana, wat Jiba destyds as die nasionale direkteur van openbare vervolgings vervang het, het in die lig van Gorven se uitspraak ’n ondersoek na Jiba se optrede teen Booysen geloods. Jiba is ná die ondersoek van meineed en bedrog aangekla, waarna sy in Julie 2015 in die streekshof in Pretoria verskyn het. Adv. Shaun Abrahams, wat Nxasana as die nasionale direkteur van openbare vervolgings vervang het, het ondanks die mening van twee advokate wat aan dié saak toegewys is én bevind het dat daar ’n sterk saak teen Jiba is, besluit om die saak teen haar terug te trek en meer mag onder haar te konsolideer in haar rol as adjunkdirekteur van die NVG.

’n Nolle prosequi-sertifikaat is nou aangevra word om Jiba namens Booysen privaat te vervolg. Indien die NVG die nolle prosequi-sertifikaat uitreik, sal AfriForum ingevolge wetgewing binne 90 dae met die privaat vervolgingsproses moet begin. Dit sal dan presies soos enige ander strafregtelike saak voor ’n regter in die hof voortgaan, behalwe dat Nel nie ’n aanklaer in diens van die NVG is nie.

Die NVG kan egter wel besluit om Jiba weer self te vervolg, wat ook vir AfriForum ’n oorwinning sal wees.

Booysen het op die mediakonferensie gesê hy is dankbaar dat AfriForum hom in die aansoek bystaan aangesien regskoste enorm kan wees.

Hy het ook aangedui dat hy sy opsies sal oorweeg wat regstappe teen Abrahams betref wat Jiba duidelik beskerm.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit is in belang van die beginsel van gelykheid voor die reg dat Jiba vervolg moet word. “Net omdat Jiba in president Zuma se binnekring beweeg, beteken dit nie dat sy bo die reg verhewe is nie. AfriForum sal deur privaat vervolging help toesien dat geregtigheid geskied – ook wat die president en sy binnekring betref.”

Hy het gesê toe hy in 2015 na ’n nuusuitsending geluister het waarin aangekondig is dat Abrahams Jiba nie gaan vervolg nie, was hy baie geskok. “Ek het myself afgevra wat ons kan doen om op te tree teen diegene wat duidelik besig is om die strafregstelsel te kaap. Die burgerlike samelewing kan nie terugsit en kyk hoe die strafregstelsel misbruik word nie. Daarom het ons besluit om die privaat vervolgingseenheid te begin.”

Jiba word voorts ook in Jacques Pauw se nuwe boek The President’s Keepers uitgewys as een van die “beskermers” wat in pres. Zuma se binnekring beweeg. In die boek word ook onthul dat sy ’n geheime agent vir die polisie se misdaadintelligensie was.

Jiba is in 2016 van die rol van advokate geskrap weens haar rol in die NVG se hantering van polities sensitiewe sake wat die Richard Mduli-saak insluit. Sy is tans op spesiale verlof.

Soortgelyke plasings