|

Noodtoestand as verweer gedurende die staat van inperking

Deur Marnus Kamfer, regs-en-riskobestuurder vir Gemeenskapsveilgheid

Almal in Suid-Afrika se lewens het met die afkondiging van die ramptoestand op 15 Maart 2020 handomkeer verander. Regte en voorregte wat ons as vanselfsprekend aanvaar het, is oornag weggeneem met regulasies wat in werking getree het met die instel van die ramptoestand.

Die toedrag van sake het vererger en verdere regte is ingeperk met die instel van die inperking van 21 dae op 23 Maart 2020 waarin ons ons tans bevind. Almal moet skielik aanpas. Om van die huis af te werk is aan die orde van die dag, inwoners van eiendomme mag sodanige eiendomme slegs in noodsaaklike omstandighede verlaat, en goedere wat mildelik beskikbaar was om aan te koop, is nou geweldig ingeperk.

Om alles te kroon, het die huidige omstandighede ’n verreikende uitwerking op gemeenskappe se veiligheid. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se hande is die afgelope paar jaar suksesvol gesterk deur veiligheidstrukture, waaronder buurtwagte, wat op georganiseerde wyse patrollies en ander aksies onderneem het om die hoë vlakke van misdaad die stryd aan te sê.

Met die verpligte afsonderingstydperk van 21 dae blyk hierdie inisiatiewe ook onder beleg te wees.

Buurtwagte, wat uit vrywilligers bestaan wat hulle persoonlike tyd onbaatsugtig opoffer om gemeenskappe se weerbaarheid binne die raamwerk van die wet te bevorder, beskik onder meer oor die vermoë om vinnig en doeltreffend op noodsituasies binne hulle gemeenskappe te reageer.

Plaaslike polisiestasies steun steeds op dié strukture se broodnodige hulp, maar die normale effektiwiteit van hierdie strukture word verlaag omdat hulle nie tans as noodsaaklike diens by die regulasies ingesluit is nie.

AfriForum is egter reeds in gesprek met rolspelers op nasionale vlak om buurtwagte as plaaslike misdaadbestryders te laat funksioneer op dergelike wyse as voorheen.

Daar kan wel geargumenteer word dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ontplooi is om die polisie in dié tyd by te staan en dus die gaping wat die buurtwagte laat, kan vul. Die realiteit is egter dat die weermag nie oor die opleiding of die nodige plaaslike ervaring beskik om as ’n doeltreffende misdaadbestrydende bondgenoot by die onderskeie gemeenskappe te dien nie, eenvoudig omdat dit nie die weermag se primêre funksie is nie. Buurtwagte is onmisbaar.

Waar laat dit dus AfriForum se 150 nasionale veiligheidstrukture in die tussentyd?

Buurtwagte moet tans, soos alle ander burgers, aan die volgende bepalings van die regulasies ingevolge die Wet op Rampbestuur gehoor gee:

Vir die tydperk van inperking word elke persoon beperk tot sy of haar woonplek, tensy streng vir doeleindes om ’n noodsaaklike diens te verrig, noodsaaklike goedere of dienste te verkry, ’n maatskaplike toelae of pensioen te ontvang of nood-, lewensreddende of chroniese mediese aandag te kry …

For the period of lockdown every person is confined to his or her place of residence, unless strictly for the purpose of performing an essential service, obtaining an essential good or service, collecting a social grant, pension or seeking emergency, life-saving, or chronic medical attention….

Buurtwagte mag egter steeds op kritieke noodoproepe reageer, mits daar aan die volgende vereistes voldoen word.

  • ’n Belang wat deur die reg beskerm word, moet bedreig word.
  • ’n Aanval moet onmiddellik dreigend wees of moes reeds begin het.
  • Die handeling wat die buurtwaglid uitvoer, moet nodig wees om die gevaar af te weer.
  • Die handeling wat die buurtwaglid uitvoer, moet proporsioneel billik tot die beskermde belang wees.

Indien iemand in jou gemeenskap jou hulp ontbied, maak seker dat die noodgeval aan bogenoemde kriteria voldoen alvorens jy reageer. Sou jy vervolg word omdat jy regulasies oortree het, moet jy in jou verweer kan bewys dat dit ’n kritieke noodtoestand was. Indien die voorval nie aan bovermelde vereistes voldoen nie, moet ’n alternatiewe uitkoms nagestreef word.

Rolspelers soos AfriForum se gesprekke met die staat in verband met regulasies werp vrugte af, aangesien die regulasies gereeld aangepas word na sodanige gesprekke. AfriForum sal onverpoosd voortgaan om ook sy insette hier te lewer ten einde die gemeenskap se veiligheid te verbeter.

Staan sterk, bly voorbereid en maak ’n punt daarvan om hoop binne jou gemeenskap te skep. Ons sal sáám hierdeur kom.

Soortgelyke plasings