|

Noordwes se vullisterreine in haglike toestand

AfriForum het vanjaar 135 vullisterreine landwyd geoudit as deel van die organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs 2 van die 21 vullisterreine wat in Noordwes geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (Wet no. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Só vergelyk die vullisterreine in Noordwes:

Naam van tak/vullisterrein Munisipaliteit/ verantwoordelike instelling Lisensienommer Nakomingstelling (%)
Noordwes: 2015 2016 2017 2018 2019 2020
Bloemhof Lekwa-Teemane PM NWP/WM/DR4/2011/11 16 20 2 10 6 44
Christiana Lekwa-Teemane PM NWP/WM/DR4/2011/09   36 4 12 4 18
Coligny Ditsobotla PM 12 8 0 0 0 0
Delareyville Tswaing PM B33/2/330/44/P219 8 8 9 2 10 28
Brits (Hartebees­fontein) Madibeng PM B33/2/0121/41/P81 84 26
Klerksdorp City of Matlosana PM 16/2/7/C241/D4Z2/P514 64 45 18 10 36
Koster Kgetlengrivier PM 4 2
Lichtenburg Ditsobotla PM B33/2/330/3/P58 8 16 2
Mooinooi Sebanye-Stilwater (Interwaste) 16/2/7/A210/C29/Z1/P379 94 94
Zeerust Ramotshere Moiloa PM 4 16
Ottosdal Tswaing PM NWP/WM/NM4/2012/11 40 29 2
Potchefstroom Tlokwe PM 16/2/7/C231/D13/Z1/P 100 90 94 64 16
Potchefstroom-oorlaaistasie Tlokwe PM 89
Wolmaransstad Maquassi Hills PM B33/2/330/19/P166 34 8
Rustenburg (Waterval) Rustenburg PM D09202-01 37 88 62 94
Sannieshof Tswaing PM NWP/WM/NM4/2012/09 12 2 2 2 34
Schweizer-Reneke Mamusa PM 16/2/7/C301/D2/23/P421 64 17 8 22
Stella Naledi PM NWP/WM/DR1/2013/16 12 16 4 2
Swartruggens Kgetlengrivier PM 0 0 0
Ventersdorp JB Marks PM   3 0
Vryburg Naledi PM NWP/WM/DR1/2009/01 92 96 50 52 32 28

Die oudit bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika meet en sluit faktore soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining, rehabilitasie en dies meer in. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

Volgens Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico, is die meeste vullisterreine in Noordwes in ’n haglike toestand. “Die meeste vullisterreine is in ’n slegte toestand en dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die munisipaliteite se versuim om die infrastruktuur en toerusting van die vullisterreine te herstel en te onderhou.

Coetzee sê voorts die algemeenste probleme wat AfriForum tydens die oudit ondervind het, is onder meer die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en die algehele wanbestuur van die terreine. “Die meeste van die terreine het ook nie die nodige personeel om dit te bestuur nie en daar is feitlik geen toegangsbeheer nie. Die gebrek aan toegangsbeheer lei verder daartoe dat mense op die terreine woon.”

AfriForum-takke sal druk op owerhede in hul gebiede plaas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter. Dié komitees sal bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die betrokke dorp wil verbeter. AfriForum gaan ook ná afloop van die projek ’n vergadering met Barbara Creecy, Minister van Omgewingsake, belê om terreine te identifiseer sodat dit herstel en weer op ’n aanvaarbare standaard gebring kan word.

Die ouditverslag sal ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek en optrede teen munisipaliteite wat nie aan die vereistes voldoen nie. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat die vullisterreine se standaard genoegsaam verbeter.

  • Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings