|

Nuuskommentaar: Die klug van ekonomiese transformasie

Die ANC is as regering en politieke party so kniediep in die pekel dat strenger rasteikens vir die privaatsektor en ’n hernude verbintenis en beklemtoning van swart ekonomiese bemagtiging nie juis ’n verrassing is nie.

Dis maar net nog tekens van die laaste stuiptrekkings en wanhopige pogings van ’n magsdronk en rasbehepte regering om aan soveel mag as moontlik vas te klou.

En wat is die boodskap wat ekonome, kundiges, ontleders én gewone mense vir hulle het? Hou op. Ons vertrou julle lankal nie meer nie. Al jul beleide, wetsontwerpe, strategieë en planne vir ekonomiese groei en werkskepping het tot op hede misluk en die land en sy mense op hul knieë gedwing.

Suid-Afrikaners het nie meer vertroue in die regering nie en by die dag ook minder in pres. Cyril Ramaphosa. Ja, die agbare president van die land wat weekliks ’n nuusbrief uitreik wat geen hoop skep dat hy een of ander tyd ware leierskap sal toon wat die land uit die moeras van korrupsie, rassisme, misdaad, wanorde en verval sal lig nie.

Inteendeel, dit is asof die kwessies wat hy in sy nuusbriewe aanraak totaal uit voeling is met wat werklik in die land aan die gang is en geheel en al verwyderd is van die belewenis van gewone mense op grondvlak. Mense wat elke dag van hul lewe ’n stryd om oorlewing voer en wat elke dag moet veg om hul werk te behou of werk vir hulself en ander te skep.

Miskien kan ’n mens tereg vra hoe Ramaphosa die lot van dié mense sal verstaan en in voeling met die werklikheid in die land kan wees gegewe die feit dat sy persoonlike rykdom tans op meer as R7 miljard ($450 miljoen) staan. Ja in die afgelope jaar het dit met $40 miljoen gegroei.

Die president moet baie mooi dink wat die uiteinde kan en waarskynlik gaan wees as hy en sy regering met hul onwerkbare raskwotas, kaderontplooiing en swart ekonomiese bemagtiging voortgaan.

Beleggers en vermoënde mense sal aanhou landuit vlug om beter geleenthede na te jaag. Volgens die VN se departement van ekonomiese en maatskaplike sake het 914 901 Suid-Afrikaners tussen 2015 en 2020 geëmigreer. Tussen 2010 en 2015 het 786 554 Suid-Afrikaners die land verlaat. Dit is veral jongmense met vaardighede wat ook beter geleenthede soek.

Daar is ook twee ander scenario’s wat sal uitspeel. Armoede en werkloosheid sal meer mense tot geweld, misdaad en diefstal die strate in dryf. Openbare ontevredenheid met gepaardgaande protesoptogte is al ’n alledaagse verskynsel in die land.

Die ander scenario is dat minderhede wat nie die land wil of kan verlaat nie hul toenemend staatsbestand sal maak en spreekwoordelik van die korrupte sentralistiese staat sal wegbreek deur op innoverende maniere en harde werk selfstandig en onafhanklik te wees. Hierdie groep word by die dag groter en sterker. Hulle is die mense wat lankal besef het dat jy alles in jou vermoë moet doen om onafhanklik van ’n vyandige staat te raak.

Dit is hulle wat besef dat elke korrupte bedrogspul binne die ANC, staatsentiteite en –departemente en plaaslike munisipaliteite onder die dekmantel van ekonomiese bemagtiging plaasgevind het. Net kaders van die ANC en diegene met politieke verbintenisse het danksy hierdie sogenaamde ekonomiese bemagtiging al hoe ryker geword. Dalk is die een ligpunt dat dit nie net denkers is wat dit besef nie, maar ook die ANC se kiesers. En dít is waarom die ANC al hoe benouder raak oor die verkiesing in 2024.

Soortgelyke plasings