|

Nuuskommentaar: Kans op regverdige en billike regsprosesse word al hoe skraler

As daar nou een ding is wat gewone landsburgers vandag ten alle koste moet vermy en verhoed indien moontlik, is dit om met die gereg te bots. Selfs al is dit om onwetend ’n verkeersoortreding te begaan.

Die kans om regverdige behandeling te kry, hetsy deur die polisie of in die howe, het baie skraal geword. Daarom dat AfriForum se privaatvervolgingseenheid oorval word deur mense wat geregtigheid soek.

Vertroue in die land se regstelsel is aan flarde en as ’n mens kyk na hoe die regstelsel by die dag agteruitgaan en verval, is daar groot rede tot kommer en selfs vrees.

Al is daar nog baie goeie lede in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, is daar elke dag verhale van mense wat ontnugter en selfs geskok is wanneer hulle om een of ander rede by ’n polisiekantoor beland. Dit is algemeen om van swak, diskriminerende boeliegedrag te verneem deur polisiebeamptes wat weerloses vinnig laat verstaan dat hulle vanuit ’n posisie van mag optree en dat jy maar net moet stilbly en in jou spoor trap. Bitter min is te sien van ’n ingesteldheid dat hulle as “geregsdienaars” optree.

As jy dit regkry om nie verguis te voel nadat jy by ’n polisiekantoor uitkom nie, is jou volgende uitdaging om nie deur ’n metropolisielid op een van die land se besige paaie afgetrek te word nie. Die kans is baie goed dat omkoopgeld van jou geëis sal word vir ’n oortreding soos ’n bestuurslisensie wat verval het, al probeer jy al maande om ’n afspraak te kry om dit te hernieu. Nog erger kan jy summier gearresteer en na die naaste polisiestasie geneem word om aangehou te word totdat jy ’n regsverteenwoordiger in die hande kan kry.

Sou jy om een of ander rede vandag die slagoffer van misdaad word en in ’n stadium in die hof beland omdat jy moet getuig of hoop om geregtigheid vir jouself of ’n slagoffer te kry, kan jy jou voorberei op ’n baie lang uitgerekte proses waarvan die uiteinde deesdae toenemend onvoorspelbaar is.

Die toestand waarin die Nasionale Vervolgingsgesag is, het tot gevolg dat daar talle gebreke in die regsproses is. Dit wissel van aanklaers wat onwillig is om oortreders te vervolg weens hul politieke en ander verbintenisse, aanklaers wat eenvoudig nie opgewasse is om moeilike sake te hanteer nie of aanklaers wat moedeloos raak omdat die verdediging talle vertragingstegnieke gebruik. Dit is soms lagwekkend om te hoor watter verskonings geopper word om sake uit te stel. Dit wissel van die verdediging of die staat wat nie gereed is om met ’n saak voort te gaan nie; ’n dossier of getuies wat nie by die hof is nie; beskuldigdes wat van regspanne verander tot hofpersoneel wat siek is.

Wanneer jou saak dalk na maande of selfs jare suksesvol in ’n hof geargumenteer is, is die laaste en deurslaggewende toets by die uitspraak of bevel van ’n landdros of regter. In die Suid-Afrikaanse konteks is regskenners en ontleders toenemend bekommerd oor sekere uitsprake wat gelewer word. In van die uitsprake hang landdroste en regters se politieke onderrokke sover uit dat hulle dit al vastrap. Rassisme of ondertone daarvan is duidelik te bespeur in van die uitsprake. Wanneer daar nie ’n regverdige verhoor vir onskuldige mense is nie, skrei dit ten hemele en weet gewone mense dat dit eenvoudig nie so kan aangaan nie….

Soortgelyke plasings