|

Nuuskommentaar: Wees trots op jou taal en vier vanjaar internasionale moedertaaldag

Internasionale Moedertaaldag word sedert 2000 jaarliks op 21 Februarie gevier. Daar is op dié datum besluit om onder meer hulde te bring aan studente wat in 1952 doodgeskiet is toe hulle teen die gebruik van Urdu as enigste amptelike taal in die hedendaagse Bangladesj betoog het. Dat hulle bereid was om vir hulle moedertaal (Bengali of Bangla) te sterf, bewys hoe sterk mense oor taal voel.

Buiten die liefde vir taal, is daar wêreldwyd ’n oormaat bewyse van die noodsaak van moedertaalonderrig – nie alleen vir die akademiese ontwikkeling en emosionele welstand van studente nie, maar ook vir ekonomiese groei en maatskaplike stabiliteit in ’n land.

Tegnologie bied inderdaad wonderlike geleenthede vir meertaligheid, maar ook die beter gebruik van ons moedertaal.

Internasionale Moedertaaldag word herdenk om bewusmaking te skep daarvoor dat tale en veeltaligheid polarisasie en marginalisering teenwerk, terwyl dit volhoubare ontwikkelingsdoelwitte bevorder.

’n Jaarlikse tema word aan die dag gekoppel. Vanjaar is dit “Die gebruik van tegnologie vir meertalige leer: Uitdagings en geleenthede” (“Using technology for multilingual learning: Challenges and opportunities”).

Dit bly ’n unieke prestasie waarop alle Afrikaanssprekendes trots moet wees dat ons taal een van slegs vier tale is wat in die twintigste eeu hoëfunksie status bereik het.

Tegnologie bied inderdaad wonderlike geleenthede vir meertaligheid, maar ook die beter gebruik van ons moedertaal. Die feit dat ’n mens aanlyn oombliklike toegang tot verskeie Afrikaanse woordeboeke, tweetalige woordeboeke en selfs tesourusse het, maak dit maklik om reg te skryf, skryfwerk met idiome en sinonieme op te kikker en anglisismes te systap.

Speltoetsers vir slimfone, tablette en rekenaars is waardevolle hulpmiddels en aanlyn vertaalprogramme word deurentyd verbeter.

Uitdagings is dat alle tale dinamies groei en dat hierdie woordeboeke en speltoetsers dus nie altyd bybly met die jongste nuutskeppings en taalreëls nie. Beide die ontwikkelaars en gebruikers het ’n groot verantwoordelikheid om te sorg dat die programme so volledig op datum bly as wat moontlik is.

Verder is dit soms moeilik om Afrikaanssprekendes te oortuig dat hulle Afrikaans as verstektaal vir die instelling van byvoorbeeld hulle slimfone moet kies. Omdat terme soos “Inbus” dalk minder bekend as “Inbox” is, sal hulle dit dikwels as onsinnig afmaak. Gereelde gebruik skep egter bekendheid. Dink maar aan ’n woord soos “hommeltuig” wat ’n dekade gelede vreemd op die oor geval het, maar vandag die standaard term in die Afrikaanse media is om na ’n “drone” te verwys.

Die ontwikkeling van taaltoepassings kan duur wees, maar hoe meer mense dit gebruik, hoe goedkoper raak die verdere ontwikkeling en instandhouding daarvan.

Onder akademici wat minderheidstale probeer uitbou, word spottend gefluister dat die taal wat hulle yskas en Wikipedia met hulle kinders praat, die taal is wat die een-en-twintigste eeu sal oorleef. Enigeen met ’n liefde vir ons taal en toegang tot die internet kan betrokke raak om die Afrikaanse Wikipedia uit te bou.

Op Internaionale Moedertaaldag moet ons ook terugkyk na die herkoms en verlede van Afrikaans – dit bly ’n unieke prestasie waarop alle Afrikaanssprekendes trots moet wees dat ons taal een van slegs vier tale is wat in die twintigste eeu hoëfunksie status bereik het. Interessantheidsonthalwe: die ander tale is Hebreeus, Indonesies en Hindi.

Vier vanjaar Internasionale Moedertaaldag vandag (21 Februarie) en laai sommer nou ’n Afrikaanse speltoetser af as jy nog nie het nie!

Soortgelyke plasings