|

Nuwe boek gee antwoorde op skooluitdagings

’n Nuwe boek om beheerliggame en besture van skole te bemagtig om alledaagse uitdagings die hoof te bied, is pas deur die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) vrygestel.
Volgens dr. Jaco Deacon, outeur en adjunk uitvoerende hoof van Fedsas, spruit die boek uit die werklike probleme waarvoor beheerliggame en besture dikwels te staan kom.
Verskeie scenario’s word in die boek uiteengesit en het ten doel om skoolhoofde te help wat dikwels vinnige en ongewilde besluite moet neem.

Die vraag-en-antwoordboek is saamgestel uit navrae van skole van regoor die land.
Van die moeilike situasies waarvoor skole byvoorbeeld te staan kom, sluit in ongelukkigheid onder sekere ouers oor die aanwysing van hoofleiers, probleme met die verkiesing van die verteenwoordigende leerlingraad (VLR), die toelating van leerlinge wat te oud vir hul graad is, skole waar die infrastruktuur besig om in duie te stort, druk van distrikskantore op skole om hulle van beleide en ander dokumente te voorsien en ontevredenheid oor die installering van sekuriteitskameras in klaskamers.

Ander kwessies wat in die boek bespreek word, is finansiële bestuur by skole, risikobestuur en aanspreeklikheid, eiendom, koshuise, dissipline en buitemuurse aktiwiteite.
Carien Bloem, AfriForum se koördineerder vir onderwysprojekte, meen dit is ’n baie insiggewende handleiding wat hoofde en beheerliggame beslis sal help. “Dit is belangrik dat almal die rol en verpligting van die staat, onderwysers, hoofde, ouers en beheerliggame begryp.

“Ek sal skole beslis aanraai om die boek aan te skaf. Daar is ’n gewisse aanslag op Afrikaanse skole en ’n boek soos hierdie sal rolspelers help om slaggate te identifiseer en vroegtydig reg op te tree. Dit is ook belangrik dat beheerliggame hulle van alle relevante wetgewing moet vergewis,” het Bloem gesê.

Soortgelyke plasings